MENSWORDING

MENSWORDING. Hierdie term verwys na Jesus* Christus*, wat aan die begin van ons jaartelling in Palestina* gebore, geleef en gesterf het. Die kerk* bely in gehoorsaam­heid aan die Bybel* dat sy geboorte die menswording van God vergestalt, dat Jesus Christus tegelykertyd in één persoon God én mens is en dat net Hy daarom die Middelaar tussen God en die mense is (1 Tim 2:5).

Hierdie belydenis het deur die eeue die volgende basiese vrae aan die teologie* ge­stel: Hoe kan daar van ’n mens gesê word dat Hy God is sonder om die grens van die vergoddeliking van die mens te oorskry? Hoe kan van God gesê word dat Hy werklik mens geword het sonder om die Godheid van God aan te tas?

Die Ebioniete het as Joods-Christelike sekte ná die val van Jerusalem* in 70 nC geleer dat Jesus ’n blote mens was wat deur ’n besondere roeping en begenadiging in staat gestel is om Verlosser van die mens­heid te wees. Hulle het die Godheid van Christus, die maagdelike* geboorte en die hele prediking van Paulus* verwerp. Daar­teenoor het die dosetisme* as gnostiese* denkrigting die egte mensheid van Christus verwerp deur te stel dat Hy slegs in skyn ’n menslike liggaam gehad het, en net in skyn as mens geleef en gesterf het. Sommige beweer dat Hy ’n hemelse liggaam gehad het.

In die pre-moderne tyd het daar ’n sterk neiging bestaan om oor te hel na die kant van die dosetisme, terwyl daar sedert die 18de eeu ’n neiging in die rigting van die ebionitisme is. Die kerk het uiteindelik nie in een van hierdie twee weë opgegaan nie, maar in die aanvaarding van God as die Drie-enige* ’n weg gevind om die onbegryp­like en misterie van God wat God gebly het en tog ook mens geword het, te bely sonder om dit te kan “verstaan”.

^^^1

Sidebar