MENTOR, IZAK JACOBUS

MENTOR, IZAK JACOBUS (1928–) het as kind in sy pa se veeboerdery gewerk. Eers op 15-jarige ouderdom is dié besonder skrander tiener die eerste keer skool toe. Ná drie jaar slaag hy standerd 6, waarna hy privaat verder studeer. In 1951 begin hy met teologie* op Wellington, en in 1957 word hy op Umtata georden. Vanaf 1958, tot met sy emeritaat (aftrede) op 3 Augustus 1997, het hy die NG Sendinggemeente (later VGK) Ronde­bosch bedien.

Mentor was moderator* van die sinode* van die NG Sen­dingkerk* van 1982 – die eerste moderator wat nie as (blanke) sendeling* in die kerk gekom het nie. Sy posisie was dikwels omstrede. Vir baie jonger dominees was hy nie radikaal genoeg téén apartheid* en die NG Kerk* nie. Met die vorming van die Verenigende Gereformeerde Kerk* in Suider-Afrika (VGK), het hy prinsipiële besware gehad. Hy was besorg dat die NG Kerk nie deel was van die vereniging nie. Kort vóór sy emeritaat (aftrede) het die gemeente Rondebosch egter wel deel van die VGK geword. Die Dekorasie vir Voortreflike Diens is hom in die 1980’s deur die destydse staatspresident aangebied, maar hy het dit ná oorweging van die hand gewys.

Sidebar