MESOPOTAMIË

MESOPOTAMIË. Die beskawing in Me­so­po­tamië het uit stadstate ontstaan. Die oudste en belangrikste hiervan was Susan, Kis en Ur. Die naam “Mesopotamië” (Grieks*: “tussen riviere”) verwys in die algemeen na die hoogliggende gebied tussen (twee) ri­viere (Hebreeus* AramNaharajim, “Sirië van die [twee] riviere”). Hierdie aanduiding kan op enige gedeelte van moderne Oos-Turkye af tot by die Persiese Golf dui. Streng ge­sproke is Naharajim egter nie ’n dualisvorm nie, dus nie twee riviere nie, maar ’n loka­liteitsaanduiding, die riviergebied: die middelvallei van die Eufraat wat deur die Ara­meërs* bewoon is. Die Grieke en Romeine (Kyk by: Romeinse Ryk) het die naam Mesopotamië aan die gebied tussen die Eufraat* in die weste (2 Kon 17:6; 18:11; 1 Kron 5:26) en die Tigris* in die ooste gegee (Gen 24:10; Deut 23:4; Rig 3:8, 10). Gedurende die Rigters*periode is die Israe­litiese* stamme deur Kusan-Risatajim van Me­sopotamië verdruk. Uit die parallelle ge­bruik van die gebiedsname “Mesopotamië” (Rig 3:8) en “Aram” (3:10 – 1933/1953-Afrikaanse Vertaling), blyk dat die verwysings in elk geval op dieselfde gebied dui (vgl 2 Sam 8:5; Ps 60:2). In al die ander gevalle waar Aram alleen voorkom, word dit as “Sirië*” vertaal, soos dit telkens uit die Sep­tuaginta* blyk, of getranskribeer is. Die af­stammingsnaam, “Arameër” (Deut 26:5), word ook van hierdie woord afgelei (Gen 10:22-23).

Soms word Mesopotamië in die Ou Testament* as “Paddan-Aram*” – “die plein van Aram” (of Sirië) – aangedui (Gen 25:20). Op grond van hierdie oorvleueling word die twee name soms op landkaarte in kombinasie weergegee. Sommige (Engelse) vertalings van die Ou Testament volg ook die Septuaginta wat dieselfde naam (Meso­potamië) vir die Hebreeuse weergawe ge­bruik. Die Aramese Targums* gebruik egter die uitdrukking “Di al perat”, letterlik “dit wat op/bo die Eufraat is”. Die Targums suggereer dus ’n geografiese gebied in die om­gewing van die boloop van die Eufraat.

In die Bybel* word die lewensloop van Israel* telkens met Mesopotamië verbind. Die noordelike gedeelte van hierdie vrugbare plato is die gebied waarvandaan die voorouers van Israel oorspronklik gekom het, naamlik die afstammelinge van Sem* (Gen 11:10-32). Die roeping van die aarts­vader Abraham* het ook daar plaasgevind (Gen 12:1-9; Hand 7:2). Die vrou van Isak*, sy seun, kom uit hierdie gebied (Gen 24:10, 15). Jakob* het sy vroue daar gekry (Gen 28:2-7), terwyl die meeste van sy seuns daar gebore is (Gen 25:26; 46:15). Die waarsêer Bileam* kom ook uit hierdie gebied (Deut 23:4). By geleentheid het die Ammoniete* strydwaens en perderuiters vanaf Mesopo­tamië ingevoer in hulle stryd teen Dawid* (1 Kron 19:6 en volgende verse; vgl 2 Kon 19:13).

Lukas* se insluiting van inwoners van Me­so­potamië by Perse*, Mediërs* en Ela­miete dui miskien daarop dat ’n aantal Jo­de* van die verstrooiing in Babilonië* op Pinkster*dag in Jerusalem* teenwoordig was toe Petrus* tydens die uitstorting van die Gees gepraat het (Hand 2:9). Dit wil dus enersyds voorkom asof hierdie naam, wanneer dit in die Bybel ter sprake kom, na ’n beperkte gebied verwys en nie na die hele gebied tussen die Eufraat en Tigris nie. An­dersyds word die geografiese naam in Hand 2:9 waarskynlik in die meer omvattende betekenis gebruik.

Vir verdere lees: JD Douglas 1998. Illustrated Bible Dictionary. Leicester: IVP. K van der Toorn et al (red) 1995. Dictionary of Deities and Demons in the Bible. Leiden: Brill. MW Chavalas en KL Younger (red) 2002. Mesopotamia and the Bible. Com­parative explorations. Grand Rapids: Baker Academic.

Sidebar