MESSIANISME

MESSIANISME verwys breedweg na die Bybelse verwagting rondom ’n Messias*. Hierdie verwagting het sy oorsprong in die koningshuis, in besonder dié van Dawid*, die “gesalfde van God” (1 Sam 16; 2 Sam 5:3). Die Messiasverwagting gaan egter oor méér as net ’n verwagting rondom ’n “ge­wone” koning. Hierdie koning sal die ver­bondsteologie* van Sinai*2 finaal vestig, in stand hou en beskerm. Hy dra die verantwoordelikheid as die gesalfde van God om God se sjalom, sy vrede op aarde, te bring, en word met God se opdragte in gedagte, aangestel (Ps 72). Hierdie verwagting het ook ’n kollektiewe dimensie – die verwag­ting oor ’n Dawidiese koning gaan mettertyd oor die hoop dat Israel* hierdie rol in die wêreld sal vervul (Ps 2, 110).

Met die val van Jerusalem* en die ballingskap*3, verskuif die Messiasverwag­ting weg van ’n mislukte Dawidiese ko­ningslyn na ’n eskatologiese* hoop op ’n geïdealiseerde historiese figuur in die toekoms (bv Jes 42–52 se misterieuse diensknegfiguur).

In die Nuwe Testament* is dit Jesus* self wat Hom uiteindelik hierdie rol van Messias toe-eien en uitleef, en die vroeë Christelike gemeenskap skroom nie om die opgestane Jesus as die Messias (of Christus*) te herken en te benoem nie (Matt 1:1; 17:9; 26:24; Mark 9:12; Luk 2:4; 4:16-22; Hand 2:36).

Sidebar