MESSIAS (CHRISTUS), MESSIASVERWAGTING

MESSIAS (CHRISTUS), MESSIASVERWAGTING. Net in Joh 1:41; 4:25 kom die Griekse* transliterasie Messias van mesjiga (Ara­mees*; masjiag in Hebreeus*) voor, met die Griekse vertaling Christos, “gesalfde”, daarby. Iemand is met olie “gesalf” in ’n amp*, gewoonlik as priester*1 of koning* (Eks 30:30; 1 Sam 12:3). Die Messiasverwagting is in die Ou Testament* soms indirek: die Silo-belofte (Gen 49:8-12) van heil* uit Juda*, die belofte* van ’n ster uit Jakob* (Num 24:17-19), die verwagting van ’n profeet* soos Moses* (Deut 18:15-18). Dawid* word ná Saul* as koning gesalf met die belofte dat die ideale koning uit sy ge­slag sal kom (2 Sam 7:8-16). Tog gebruik die profete nie die term “Messias” as aandui­ding van die komende koning nie. Imma­nuel* (Jes 7:14), die lydende dienaar* van die Here* (Jes 40–55), en die verwagting van ’n profeet (Jes 61:1), vorm wel deel van ’n breër verwagting. In Jes 45:1 word Kores* die Here se “gesalfde” genoem en in Hab 3:13 verwys Messias na die koning of na Israel* as volk. Dit is God self wat die heil* bewerk (Jer 33:14-16), die fokus is dikwels op die nasie en nie op ’n enkeling nie, soms met geen verwysing na die Messias nie (Jes 11:6-9). In Sag 9:9-10 is die oorwinnaar ’n nederige koning (Matt 21:5).

Vóór Jesus* se geboorte, het die Jode* selfs ’n priesterlike én ’n koninklike Messias verwag (Dooie See-rolle* 1 QS 9:1). Militêre optrede, bevryding, en die tempel* se op­bou het sentraal gestaan. Die Messias is hier God se agent, maar hy is ’n gewone mens en nie ’n transendente figuur (Kyk by: Transendensie van God) en iemand wat moes ly nie. Hy is ’n aardse koning wat Israel* (van die Romeine) sal bevry (vgl die apokriewe* Psalms van Salomo 17:21-32). In die Gelykenisse van Henog (37-71) is die Messias ’n hemelse figuur, die Seun van die mens (1983-Afrikaanse Vertaling: “iemand soos ’n menslike wese”) van Dan 7:13. (Kyk ook: Jesus Christus; Uniekheid van Christus.)

 

Sidebar