MESSIASGEHEIM

MESSIASGEHEIM. Tot die begin van die 20ste eeu is aanvaar dat die Markus-boek*, as die oudste Evangelie*, ’n baie betroubare bron vir die geskiedenis van Jesus* se lewe is. Volgens Markus gee Jesus mense opdrag om stil te bly oor sy wonders* (Mark 1:44; 5:43; 7:36); moet die demone* wat Hom herken, swyg oor wie Hy is (1:25, 34; 3:11-12); moet die dissipels* ook stilbly (8:30; 9:9); verstaan die dissipels Jesus steeds nie (8:17-21); onttrek Jesus Hom en leer Hy die dissipels dikwels alleen (7:17vv; 10:10), en lyk dit of Jesus in gelykenisse* leer sodat mense nié moet verstaan nie (Mark 4:10-12). Dit gee aanleiding daartoe dat Wrede* praat van die “Messiasgeheim” om die spanning in Markus te verklaar tussen die gegewens van mense wat nié oor Jesus as Messias* mag praat nie, en die gemeente* wat Hom wél as Messias bely en aanvaar. Wrede sien Mark 9:9 as die sleutel omdat Jesus eers ná sy opstanding* as die Messias herken is. Wrede meen dat die Messiasgeheim ’n redaksionele tegniek van Markus is om die spanning op te los tussen die tradisies dat Jesus tydens sy aardse lewe nie as die Mes­sias beskou is nie, terwyl die kerk* Hom na sy opstanding wel so beskou.

Hierdie siening word nie meer net so aanvaar nie. Die Sinoptiese Evangelies* se weergawe van Jesus se optrede is nie net die resultaat van ’n enkele redaksionele skema nie, maar is meer kompleks van aard. An­der voorstelle is ook gemaak om die Mes­sias­geheim te verklaar. Daar is geleenthede waar die “messiaanse” aard van wat Jesus doen of sê, glad nie geheim gehou word nie, bv die vermeerdering van die brood (Mark 6:35-44) en die intog in Jeru­salem* (Mark 11:1-11). Demone word ook uitgedryf sonder enige bevel om stil te bly (Mark 5:1-20). Die opdrag aan die onrein geeste om te swyg (Mark 1:25), is eintlik ’n vaste komponent van so ’n episode. Die “geheim” van die gelykenisse* kan te doen hê met ’n toets van die hoorders se erns (Mark 4:25, 33-34), of kan ook apologeties wees om die gebrek aan aanvaarding van Jesus te verklaar. Die klem op die dissipels* se onbegrip kan ook saamhang met ’n polemiek teen ’n groep wat Jesus eensydig as bloot ’n groot wonderwerker beskou het.

Tog maak Wrede vir die eerste keer erns met die feit dat Markus ook die tradisie oor Jesus teologies interpreteer, en identifiseer hy aspekte wat ’n sleutelrol speel in die Markus-Evangelie. Die paradoks van ge­heim­houding en openbaarmaking is deel van die tradisie oor die aardse Jesus en hang saam met die beslissing waarvoor Jesus ’n mens plaas.

Vir verdere lees: AB du Toit (red) 1988. Handleiding by die Nuwe Testament IV. Pretoria: NGKB.

Sidebar