METAFOOR

METAFOOR dra ’n beeld se betekenis op iets of iemand oor. Dit is nie ’n letterlike beskrywing nie, maar wil ’n ooreenkoms aandui. ’n Metafoor verplig ons om te onderskei tussen letterlike en figuurlike betekenisse. Toegepas op God, word God se heerskappy en die vastigheid, sorg, lei­ding en veiligheid wat Hy bied, met meta­fore soos rots, herder, toevlug en koning beskryf (Ps 23; 62; 145).

Dit is ’n fout om ’n metafoor en die werklikheid waarop dit toegepas word, te identifiseer. As ons dit sou doen, sou God ’n klip, ’n grot of ’n skaapwagter wees. Wan­neer die Bybel sê dat God ’n vader (Jes 64:8) of moeder is (Jes 66:13; Ps 131), beteken dit nie dat God ’n man of ’n vrou* is nie. Die konstellasie van assosiasies van die beeld se domein word oorgeplaas op die konseptuele domein van God om een of meer aspekte van God se wese te verduidelik. Aan dit wat verbeeld word en aan die beeld is ’n hele reeks assosiasies verbind. Om die betekenis van die metafoor te verstaan, moet ons dus die assosiasies van die beeld (rots, vader, herder) verstaan. Meta­fore is ten nouste verbind aan die skrywer se kultuur en moet in die lig van daardie konteks verstaan word. Moderne metafore om God mee te beskryf, is dus heeltemal aanvaarbaar, soos in Joan Hambidge* se gedig “God is (soos) die internet” in Ruggespraak (2002).

Sidebar