METODISME

METODISME dank sy ontstaan aan die kragtige opwekkingsbeweging in Engeland (18de eeu), gestimuleer deur die Duits-Lutherse piëtisme* en as reaksie op die verstarring en verval van die geloofslewe in die Anglikaanse* staatskerk. Die inisiatief, lei­ding en organisering van die beweging het van John Wesley* (1703–1791) uitgegaan, met sy broer Charles* en George White­field* as vernaamste medestanders. Wat be­gin as ’n godsdienstige vereniging gefokus op ’n heilige lewe, groei vanaf 1739 uit tot reuse evangeliseringsaamtrekke met sterk nadruk op realistiese oordeelsprediking, redding deur Jesus* Christus* en aandrang op onmiddellike bekering*. Die aanvanklike skeldnaam “metodiste” (vanweë die streng metodiese vorm van vroomheid en lewenswandel), is deur hulleself as erenaam aanvaar. Later het die naam veral betrek­king op die eiesoortige metode wat by be­keringsprediking en -gesprekke gevolg is: die aandrang op ’n persoonlike krisiserva­ring van diepgaande sondebesef en berou, en ’n plotselinge, kragdadige bekering (met dag en datum). Die persoonlike bekerings­erva­ring van die stigter (op 24 Mei 1738 – gere­ken as die geboorte-uur van die Meto­dis­me) het aldus vir die hele beweging bepalend geword. Verder was by Wesley self die klem op persoonlike heiligheid (met ’n sterk wettiese inslag) oorheersend, in so ’n mate dat hy volmaaktheid (sinless perfection) in hierdie lewe bereikbaar geag het.

Teen Wesley se eie bedoelings in het geleidelike vervreemding van die amptelike kerkleiding ingetree wat teen die einde van die 18de eeu op selfstandige kerkvorming uitgeloop het. Ten spyte van onderlinge verdeeldheid (bv tussen meer Arminiaans*- en meer Calvinisties*-ge­- o­riën­teerde groeperings – lg in die gees van Whitefield) het die Metodisme en sy invloedsfeer snel en wêreldwyd uitgekring. Die vrug daarvan was onder an­dere die kragtige opbloei van sending*aktiwiteite, Bybelverspreiding (Kyk by: Bybelvertaling en –verspreiding) en die gewetens­protes teen slawe*handel. In die NG Kerk* is spore van beïnvloeding, veral via die koms van Skotse predikante in die 18de eeu, steeds aanwysbaar.

Vir verdere lees: H Berkhof 1955. Geschiedenis der kerk. Nijkerk: Callenbach; AS Wood 1988. “Methodism” in SB Ferguson en DF Wright (red), New Dictionary of Theology. Leicester: IVP.

Sidebar