METRO-EVANGELIESE SORG

METRO-EVANGELIESE SORG, aanvanklik MES-aksie genoem, is op 1 Junie 1986 amptelik deur ds De Wet Brits en sy vrou, Magda, in Johannesburg begin, maar  is voorafgegaan deur: Straatwerk-Aksie in Hillbrow, Mens-tot-Mens-Aksie wat in 1985 deur die NG Gemeente Johannesburg-Oos (Irene) geloods is; MES-Fonds; en die besorgdheid van die NG Kerk-sinode* van Suid-Transvaal dat die kerk* betrokke moet raak by die mense in ’n stad waar groot veranderings plaasgevind het.

In 1989 het MES ’n Artikel 21-maatskappy geword. In dié tyd is daar dringende aan­dag aan beter strukturering gegee. Dit het tot spanning in die leierskorps gelei. Brits het bedank en is opgevolg deur onder meer Gert Olivier, Steyn de Clerq, Elise Klut, Philip Coetzer en Johan Krige. Onder die perso­neellede tel Pieter Bosch, ’n NG predi­kant, en sy vrou, Elize, wat vir baie die be­kende “gesig” van MES geword het met haar landwye praatjies en gewilde rubrieke in tydskrifte.

Die samewerking met die korporatiewe sektor het mettertyd uitgebrei en die regering het ’n vaste drie-jaar kontrak met MES gesluit. Ooreenkomste soos dié met die Randse Afrikaanse Universiteit (nou Universiteit van Johannesburg) het ook beslag gekry sodat projekte soos Ekuthu­leni-deurgangshuis, Ekhaya-oornagskuiling, Othandweni (akkommodasie vir 40 studente), Zaziwe Hoop vir Lewe-sorgsentrum, Genesis-noodskuiling, Impilo-gesondheids­program, Roly Poly-bewaarskool, Othand­weni-Program vir Straatkinders en die En­tuthukweni-opleidingsprogram kon voort­­gaan om in die al groter wordende nood te help voorsien.

 

Sidebar