METZGER, BRUCE MANNING

METZGER, BRUCE MANNING (1914–2007) behaal sy teologiese* kwalifikasie aan die Princetonse Teologiese Seminarie, en sy MA, PhD (1942) in Klassieke aan die Princeton-universiteit. Hy ontvang eredoktorsgrade van onder meer die universiteite van St Andrews en Potchefstroom. As Pres­biteriaanse* predikant* doseer hy aan die Princetonse Teologiese Seminarie (1938–1984). Gedurende 1985 besoek hy 12 van die (destydse) 16 universiteite in Suid-Afrika. Tydens hierdie besoek is ’n bundel opstelle deur Suid-Afrikaanse Nuwe-Testamentici aan Metzger opgedra met die titel: A South African Perspective on the New Testament onder redakteurskap van JH Petzer en PJ Hartin.

Bruce Metzger se naam is sinoniem met die tekskritiek van die Nuwe Testament*. Sy handboek oor die teks(kritiek) van die Nuwe Testament (1964, 19923) en sy tekskritiese kommentaar op die Nuwe Testament (1971, 19942) was vir minstens twee geslagte tekskritici die basiese handboeke. Hy pu­bliseer gesaghebbende werke oor die ou vertalings van die Nuwe Testament (1977) en die kanon* van die Nuwe Testament (1987).

Hy is die leier van die International Greek New Testament Project (1948–1984) vir die studie van onbekende Nuwe-Tes­tamentiese manuskripte. Hy was verder ’n lid van die redaksie van die Verenigde Bybel­genootskappe en die Duitse Bybelge­noot­skap se teksuitgawe The Greek New Tes­tament wat gaandeweg die standaard­teks vir bykans alle Bybelvertalings* geword het. Hy was sedert 1952 betrokke by die uitbreiding van die Revised Standard Version wat in 1977 met insluiting van die apo­kriewe* of Deuterokanonieke boeke verskyn, en vanaf 1977 was hy besig met die New Revised Standard Version. Hy was die redakteur van die gesaghebbende Oxford Com­panion to the Bible (1993).

Vir verdere lees: MW Holmes 1999. “Metzger, Bruce Manning” in: JH Hayes (red), Dictionary of Biblical Interpretation, deel 2. Nashville: Abingdon.

Sidebar