MFECANE

MFECANE (’n Zoeloe-woord) beteken “om te vergruis” of “groot oorlog” en is een van die ingrypendste gebeurtenisse in Suidelike Afrika gedurende die 19de eeu. Dit is ook bekend as difaqane en lifaqane (uit die Sotho-taalgroep). Hierdie rewolusie wat onder die noordelike Nguni-stamme plaasgevind het, het ’n kettingsreaksie ver­oorsaak waarin gevestigde dinastieë oorrompel en vervang is, ou heersersgebiede oorwin en by nuwes ingelyf is. Mense is gedwing om hulle tradisionele blyplekke te verlaat en elders ’n heenkome te soek. Mfecane het tot die ontvolking van ’n groot deel van Suidelike Afrika gelei wat dit vir die Voortrekkers* makliker gemaak het om die binneland hulle nuwe tuiste te maak. Die mees rewolusionêre deel van die Mfecane het hom in Natal voltrek waar beheer oor die land en die handel ’n groot motivering was. Die kern van die omwenteling in militêre sin was dat die gebruiklike inisiasie van seuns in Zoeloeland in ’n militêre sisteem verander is. In die plek van die tradisionele besnydenis en rites wat daarmee gepaard gaan, het militêre ouderdomsregimente gekom. Teen die einde van die 18de eeu het heerssugtige stamhoofde ander stamme militêr onderwerp en opperhoofde geword.

Msilikatse (of Mosilikatse soos die Bets­joeana hom genoem het; die Voortrekkers het hom Silkaats genoem) het weggebreek met ’n gedissiplineerde groep mans wat opgelei was in die vergieting van menslike bloed. Hy was lank en goed gebou, met deurpriemende oë en ’n aantreklike gesig. Verskeie stamme wie se oorblyfsel die he­dendaagse Bapedi uitmaak, het nie hulle dissipline so vervolmaak soos dié van hierdie kaal krygers, of ’n wapen so dodelik soos die Zoeloe-steekassegaai hanteer nie. Almal wat nie kon wegvlug nie, is uitgewis, behalwe die mooiste meisies en party van die seuns wat uitgehou is vir draers. Die land waaroor hy getrek het, was met ge­raamtes bedek, en letterlik geen mens het daarin oorgebly nie, want Msilikatse se  oogmerk was om ’n woestyn tussen hom en Shaka* te plaas.

Dit is onmoontlik om die presiese aantal krygers van Msilikatse te bepaal, maar hulle was waarskynlik nie meer as 20 000 nie. Vyftig van hulle was mans genoeg vir meer as vyfhonderd Betsjoeana. Terwyl hierdie verskriklike oorlog gevoer is oor die grootste deel van Afrika suid van die Zambesi, het die verbouing van grond tot stilstand gekom, en is byna alle beeste, bokke en skape vir kos geslag. Hongersnood het gevolg, en het gelei tot die dood van dui­sende wat die assegaai nog nie bereik het nie. Die totale aantal mense wat in die oorlog en vanweë sy gevolge omgekom het, kan net rofweg geskat word, maar dit moes nader aan twee as een miljoen gewees het.

Vir verdere lees: H Giliomee en B Mbenga (reds) 2007. Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika, Kaapstad: Tafelberg. JFA de Ajayi 2003. General History of Africa, deel 6. Glosderry: New Africa Books. JD Omer-Cooper 19942. History of Southern Africa. New Hamp­shire: Heineman. CFJ Muller 19803. 500 jaar Suid-Afrikaanse geskiedenis. Pretoria: Aca­demia.

Sidebar