MGAWI, KILLION JACOB

MGAWI, KILLION JACOB (1931–) is die seun van een van die eerste bekeerlinge op Nkhoma in Malawi, die NG sending* se la­tere hoofstasie. Sy pa word evangelis en Mgawi volg hom na, eers as onderwyser (1951) en toe as leraar (1956) – die jongste tot in daardie stadium. Sy loopbaan in die Sinode van Nkhoma dek ’n wye verskeidenheid bedieningsterreine – van gemeentele­raar in verskeie gemeentes tot jeugleraar, tot dosent by die Chongoni Lay Training Centre, eerste algemene sekretaris van Nkhoma-sinode in 1961, reisende sekretaris van die Student Christian Organisation of Malawi, moderator* van Nkhoma-sinode en van die algemene sinode van die Kerk van Midde Afrika, Presbiteriaans. Hy ondergaan verdere opleiding in Engeland en in Suid-Afrika. Verskeie publikasies verskyn uit sy pen. Twee maal dien hy as dosent by die teologiese skool op Nkhoma, die tweede toe hy op amper 75-jarige ouderdom weer daarheen beroep is. In 2004 is hy deur die Zoya-universiteit in die VSA met ’n eredoktorsgraad vereer vir buitengewone diens gelewer aan die kerk en die samelewing van Malawi.

Vir verdere lees: JM Cronje 1981. Aan God die dank: Geskiedenis van die sending van die Ned Geref Kerk, Deel 2. Pretoria: NGKB. CM Pauw 1980. Mission and Church in Malawi: The History of the Nkhoma Synod of the Church of Central Africa, Presby­terian. 1889–1962. DTh, Universiteit van Stellenbosch.

Sidebar