MGIJIMA, ENOCH JOSIAH

MGIJIMA, ENOCH JOSIAH (1858–1929) is by Bulhoek in die Oos-Kaap gebore. Hy was die derde van drie seuns van Josiah Mgijima van die Mfengu-stam, deel van die Hlubi-groepe wat uit Natal gevlug het. Die familie het uiteindelik in 1848 ’n tuiste by Hinsta se Gcaleka-Xhosa gevind. Mgijima se pa, Josiah, het onder die sendeling* John Ayliff tot bekering* gekom en die familie het lidmate van die Metodistekerk* geword. Hulle het later by Ntabelanga, naby Queens­town, gewoon. Die familie het on­der meer uit vyf dogters bestaan en die pa het gesorg dat hulle almal ’n kans gekry het om by Lovedale* hulle opvoeding te ontvang. Dit was net Enoch wat nie die ge­leent­heid kon benut nie, omdat hy aan swaar hoofpyne gely het. Hy het boer ge­word en het vir die Metodistekerk ge­preek, maar al wou hy georden word, kon hy nie omdat sy skoolopvoeding net tot standerd 3 (graad 5) was.

Mgijima het van 1907 af visioene gekry en was daarvan oortuig dat die Here* hom geroep het om kerkleier te word. Hy het die Metodistekerk verlaat en het hom eers by die Morawiese* sending by Shiloh aange­meld, en ná 1912 by die Church of God and Saints of Christ, ’n kerkverband uit Ame­rika. Vanweë sy aanhoudende visioene, is hy gevra om die kerk te verlaat. Hy het toe sy eie kerk, die Israeliete, gestig.

Mgijima het baie volgelinge gekry wat na Ntabelange (waar sy hoofkwartier was) verhuis het. Dit het tot moeilikheid met die inwoners van Oskraal en met die plaaslike boere gelei. Ná die sogenaamde “Mattushek Affair” in 1921, waar twee van die “Israelie­te” gewond is toe hulle voer vir hulle beeste gesoek het, het die spanning begin opbou. Die “Israeliete” het geweier om met die regeringsamptenare te praat. ’n Groot aantal polisielede het na Ntabelang opgetrek en die stryd het begin. Mgijima het sy mense belowe dat die koeëls van die polisie in water sou verander, maar dit het nie gebeur nie. Die soldate en polisie het ge­were gebruik, terwyl Mgijima se mense net knopkierries en messe en ’n paar gewere gehad het. Die gevolg was dat 163 gesterf en 129 gewond is. Mgijima is gevange geneem.

Vir verdere lees: JA Millard 1999. Mali­hambe: Let the Word Spread. Pretoria: Unisa.

Sidebar