MGOJO, KHOZA ELLIOT MBUYISA

MGOJO, KHOZA ELLIOT MBUYISA (1932–2012) het as jong onderwyser geroepe gevoel tot die bediening. Nadat hy sy BA Teologie aan die Universiteit van Fort Hare be­haal het, is hy as predikant* in die Meto­dis­tekerk* georden. Sy meestersgraad het hy in Chicago behaal en sy PhD aan die Universiteit van Fort Hare. Mgojo was ’n knap student wat sy grade met die hoogste lof verwerf het. Hy was lief vir die klassieke tale (Hebreeus* en Grieks*) en het ná sy terugkeer uit die VSA vir 17 jaar lank aan die Teologiese Seminarium in Pietermaritz­burg doseer. Hy is tot die leierskap van die Metodistekerk verkies en het ses jaar lank as president van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke* gedien. In 1995 het pres Man­dela* hom as ’n kommissaris in die Waar­heids-en-Versoeningskommissie* aangestel. As een van die baanbrekers op die terrein van Swart Teologie* in Suid-Afrika, was sy insigte en geskrifte van deurslaggewende betekenis. Ná sy aftrede het Mgojo hom in die omgewing van Margate (kwaZulu-Natal) tuisgemaak, waar hy met talle ge­meenskapsprojekte besig was. Hy het eredoktorate van die universiteite van Natal en Zoeloeland ontvang.

Sidebar