MIDDELAAR

MIDDELAAR is iemand wat tussen twee vyandige partye versoening* bewerk (be­mid­del). In Bybelse sin veronderstel dit die vervreemding tussen God en mens* as gevolg van sonde*. Priesters*1 tree as middelaars namens mense op by God (2 Kron 26:18), en profete* namens God by mense (Deut 18:18). Moses* is dié Ou-Testamentiese* voorbeeld van ’n middelaar tussen mense en God (Eks 32:30-32), hy is middelaar van die Ou Verbond* (Eks 19:3-8). Die hoë­priester* verskyn as middelaar op die Ver­soendag* namens die volk voor God. Abraham* (Gen 12:7-8), Jakob* (Gen 35:1-15), Josua* (Jos 24:14-28), Salomo* (1 Kon 8:22-53) en die lydende Dienaar* van die Here* (Jes 53:5) tree as middelaars op.

In die Nuwe Testament* kom “middelaar” net ses keer voor, drie keer in He­breërs*. Jesus* word vier keer Middelaar ge­noem. Hy is die Middelaar tussen God en die mense wat die losprys* vir almal gegee het (1 Tim 2:5). Hoewel die Nuwe Verbond* nie hier genoem word nie, wys Heb 8:6; 9:15; 12:24 dat Jesus die Middelaar van die Nuwe Verbond tussen God en die mense is. Jesus is die Hoëpriester en die volkome offer* in die hemelse tempel*, daarom kan Hy vir altyd vir mense by God intree (Heb 7:25; Joh 17). Die gelowige* se dank en toe­wyding aan God is alleen aanvaarbaar deur Jesus Christus* as die Middelaar (1 Pet 2:5).

 

Sidebar