MIDIAN

MIDIAN was ’n landstreek in die suid­ooste van Palestina*. Die Midianiete word soms in noue samehang met die Ismaeliete genoem en word in Gen 37:2-28 beskryf as handelaars wat gereis het tussen Gilead* en Egipte*. Midian was die gebied waarheen Moses* gevlug het toe hy die Egiptiese* amp­tenaar vermoor het (Eks 2:15). Daar het hy die skape opgepas van die Midianitiese priester, Jetro*, met wie se dogter hy later getroud is. Die vermoede bestaan dat die Israeliete via die Midianiete hulle God as Jahwe* begin dien het.

Die Midianiete word genoem tydens Israel* se woestyntog (Num 25:6-9), maar dit was veral in die rigterstyd (Rig 6–8) dat die Midianite beskryf word as baie bedrywig in Israel se gebied. Hulle het alliansies met die Amalekiete* gevorm (Rig 6:3) en die kwesbare Israeliete gedurig geteister met aanvalle. As vervoermiddel het hulle van kamele gebruik gemaak wat hulle baie mobiel gemaak het (kyk bv na Jes 60:6). Hulle het veral gedurende die oestyd teen Israel* opgetrek om so in hulle eie kosbehoeftes te voorsien (Rig 6:3-4).

 

Sidebar