MIGA (BYBELBOEK)

MIGA (BYBELBOEK) is die sesde boek van die Boek van die Twaalf* in die He­breeuse* kanon*, maar staan derde in die Griekse* vertaling (Septuaginta*). Die Septuaginta het waarskynlik probeer om die eerste drie boeke in kronologiese volgor­de te plaas (Amos*, Hosea*, Miga).

Historiese agtergrond: Miga was afkoms­tig van die dorp Moreset ongeveer 40 km suidwes van Jerusalem* (1:1). Die opskrif meld dat Miga profeteer gedurende die tyd van koning Jotam*, Agas* en Hiskia* (ongeveer 742–687 vC). Hy was ’n tydgenoot van Jesaja* en daar is ’n opvallende oor­eenkoms tussen hierdie twee boeke (vgl Miga 4:1-4 en Jes 2:2-4). Die val van Samaria* in 722 vC word voorspel en die boek weerspieël die tyd vóór die hervor­ming van koning Hiskia. Daar is ook moontlik later byvoegings. Gedigte in Miga 4:6-13, 5:2-5a en 7:8-20 dui op ’n periode ná die val van Jerusalem in 587/6 vC. Miga speel af teen die agtergrond van die Assiriese* Ryk wat al hoe sterker word. Samaria*, die hoofstad van Israel*4 (Noordryk), word in 722/1 vC ingeneem. In 701 vC neem Juda* (Suidryk) deel aan ’n opstand teen Assirië en word oorgeneem deur Sanherib*; slegs Jeru­salem is gespaar. Die bevolking van die stad Jerusalem het waarskynlik in hierdie tyd gegroei as gevolg van ’n invloei van vlug­telinge uit die Noorde. Die profeet Miga verskyn op die toneel om ’n teologiese interpretasie te gee van gebeure wat die volk drasties beïnvloed.

Samestelling en verdeling: Die boek Miga het waarskynlik ’n paar redaksies deurloop. Daar is konsensus by geleerdes dat die eerste drie hoofstukke deur die profeet self neergeskryf is; oor die res van die materiaal is daar uiteenlopende standpunte. Talle navorsers verwys na Deutero-Miga, omdat hulle glo dat hoofstuk 6–7 nie deur Miga van Moreset geskryf is nie. Die volgende redes word aangevoer: Verskillen­de historiese en geografiese gegewens (6:5, 16; 7:14); Deutero-Miga weerspieël tradisies van die Noordryk (6:4-5; 7:15); en verskille in taalgebruik. Miga kan moontlik soos volg verdeel word: 1:1 (Opskrif); 1:2–3:12 (Oordeel oor Israel en Juda); 4:1–5:14 (Hoop vir Israel en Juda); 6:1-16 (Die Here se saak teen Israel); 7:1-20 (Van ellende na triomf).

Boodskap: Miga beklemtoon die twee­ledige tema van oordeel en verlossing. Bei­de temas wys op die unieke verhouding van God met sy volk. Miga beskou Jahwe* as die God van die hele wêreld (4:13). Geen nasie sal sy toorn ontsnap nie (5:13). Die profeet veroordeel sosiale ongeregtigheid soos bv oneerlike handelaars (6:10-11) en leiers wat omkoopgeskenke ontvang (3:11; 7:3). Wanpraktyke op godsdienstige gebied word ook veroordeel: profete wat net optree ter wille van eie persoonlike voordeel (3:5); vals profete (2:6, 11); en leë godsdienstige rituele (6:6-9). Aan die ander kant verkondig Miga verlossing en vergifnis aan ’n oorblyfsel van die volk wat God bereid is om bymekaar te maak (4:6-7). Selfs in ballingskap sal Hy hulle uit die hand van hulle vyande verlos (4:10). Daar is tekens van hoop in die toekoms: ’n nuwe koning sal opstaan en regeer (5:2-6) en Sion sal die sentrum van reg en geloof word waarheen alle nasies sal stroom (4:2; 7:11-12).

Vir verdere lees: DL Petersen 2002. The Prophetic Literature: An Introduction. Louisville: Westminster John Knox Press. WJ Wessels 1997. “Conflicting Powers: Reflec­tions from the Book of Micah” in: Old Testament Essays 10/3, 528-544. FI Andersen en DN Freedman 2000. Micah (AB 24E). New York: Doubleday.

Sidebar