MILLENNIUM

MILLENNIUM. Die woord millennium hou verband met die Latyn vir “duisend”. Die Millennium waarvan ons hier praat, verwys na ’n tydperk van duisend jaar waarvan in Op 20 sprake is. Daar is ’n aantal beskouings oor hierdie tydperk: Dis­pen­sasionele Premillennialisme*, Historiese Postmillennialisme, Postmillennialisme* en Amillennialisme*.

Hierdie tydperk is veral vir die Dispen­sasionele Premillennialisme belangrik om­dat hulle aanvaar dat al die onvervulde profesieë wat in die Ou Testament* vir Israel* uitgespreek is, in die Duisendjarige Vre­deryk* letterlik vir Israel vervul sal word.

Die belangrike Op 20:1-6 bestaan uit twee dele. Vers 1-3 is ’n aardse toneel, en vers 4-6 ’n hemelse toneel. Dit is in simboliese beelde geskryf. Satan* word bv met ’n ketting vasgebind. Hy word vasgebind sodat hy nie meer die nasies kan verlei nie. Op sigself is dit nie duidelik wat daarmee bedoel word nie. Dit is skynbaar nie ’n totale binding sodat hy niks meer kan doen nie, want niemand wat ’n toe­komstige vrederyk verwag, aanvaar dat daar geen sonde* tydens die Millennium op aarde sal wees nie. Wat beteken dit dat hy nie meer die nasies sal kan verlei nie?

In die res van die Bybel* kry ons ook die gedagte van ’n bepaalde beperking op sy mag en verwoestingswerk (Luk 10:18; Joh 12:31; Kol 2:15). Maar ook dit beteken nie ’n totale inperking sodat hy geen gevaar meer inhou vir die gelowiges nie (Ef 6:10 en volgende verse; 1 Pet 5:8 en volgende verse). Jesus* verklaar ’n keer dat Hy hom uit die hemel sien val het (Luk 10:18). As ons moeilike Skrifgedeeltes in die lig van duideliker gedeeltes wil verklaar, lyk dit taamlik geloofwaardig om aan te neem dat Op 20 oor dieselfde saak gaan. Dan leef ons al sedert Jesus* se aardse bediening in die Duisendjarige Vrederyk, veral as ons daaraan dink dat Hy die apostels na die nasies gestuur het sodat Satan in hierdie opsig nie meer die nasies kan verlei nie omdat hulle nou die waarheid hoor.

Die tweede deel, Op 20:4-6, beskryf ’n hemelse toneel. Ons lees van die siele* van martelaars* wat op trone sit, ook vir ’n dui­send jaar.

Uiteindelik het ons dus hier die absolute minimum van besonderhede oor die duisend jaar. Geen woord oor Jerusalem*, oor Christus* wat op aarde regeer, oor die troon van Dawid*, oor Israel of die nasies nie. Is dit dan verantwoord om eenvoudig te aanvaar dat hierdie tyd iewers in die toekoms lê, en dat al die onvervulde Ou-Testamentiese profesieë juis dán op die ou aarde vervul moet word met Jesus wat in Jerusalem op die troon van Dawid oor alle volke regeer? Indien Op 20:1-3 tydens die aardse bediening van Jesus vervul word, is daar geen goeie rede waarom dit nie ook van Op 20:4-6 waar is nie.

Sidebar