MILTON, JOHN

MILTON, JOHN (1608–1674), een van die grootste Engelse digters, was van huis en oortuiging ’n Vrye Calvinis*. Hy bekwaam homself in antieke en moderne tale, en behaal sy MA te Cambridge, waar hy reeds gedigte skryf. Tydens ’n studiereis na Italië ontmoet hy onder andere vir Galileo*. Sy gedigte is deurdrenk met verwysings na die klassieke letterkunde, maar binne ’n Chris­telike paradigma (vgl sy Hymn on the Morning of Christ’s Nativity, 1629).

Gedurende die stryd tussen die parle­ment en die koning, gebruik hy sy pen in diens van die demokrasie*. Hy verdedig die teregstelling van Charles I en skryf oor die onderwys en die verhouding tussen kerk* en staat*. Onder Cromwell* dien hy as minister van buitelandse sake. Toe die parlement ’n goedkeuringsproses vir publikasies instel, skryf hy sy epogmakende verdediging van pers- en godsdiensvryheid (Areopagitica, 1644). Hy steun Cromwell in sy hertoelating van Jode* tot Engeland, maar beskou vryheid vir Katolieke* nie as godsdiensvryheid nie, hoofsaaklik weens hulle simpatie met Spanje.

Gedurende die moeilikste jare van sy lewe skryf die toe reeds blinde Milton sy geniale Bybelse drama Paradise Lost (1667) wat beskou word as die mooiste vrug van die Renaissance* in die Engelse letterkunde. Tot die einde behou hierdie briljante Renaissance-man sy Christelike geloof, wat aangrypend verwoord word in sy bekendste gedig, On His Blindness, met onder an­dere hierdie uitstekende verstaan van die evangelie van genade: “God doth not need/ Either man’s work, or His own gifts, who best/ Bear His mild yoke, they serve Him best/ … They also serve who only stand and wait.”

Vir verdere lees: Horton Davies 1963. The English Free Churches. Londen: Oxford University Press J Hollander en F Kermode 1979. The Literature of Renaissance Eng­­land. New York: Penguin Books.

Sidebar