MIS

MIS of “misoffer” is ’n algemeen aanvaarde benaming vir die eucharistieviering (eucha­ristie*) van die Katolieke Kerk*. Dit word afgelei van die woorde in die Latynse oorspronklike waarmee die priester*2 aan die einde van die diens van die gemeente* af­skeid neem, te wete ite missa est, “gaan heen, die gemeente is uitgestuur”.

Die mis bestaan uit twee hoofdele, die Woord*verkondiging en die offerdiens. Die eerste helfte bevat die skuldbelydenis*, lofprysing*, gebed*, Skrif*lesings, preek*, geloofsbelydenis* en algemene voorbidding. Die tweede deel begin met die offerande*, dit wil sê die opname van die kollekte en die voorbereiding van die altaar en die brood en wyn. Daarop volg die prefasie wat die een of ander saak vir danksegging uitspreek. Dit lei die eucharistiese gebed in, waarin die priester Jesus* se woorde by die Laaste Avondmaal* oor die brood en wyn herhaal, waardeur Hy aanwesig word in die volheid van sy offer (Heb 9:11-28) as die Lam* wat geslag is en ewig op God se troon voortleef (Op 5:6-14). In die daaropvolgende kommunieritus bid die gemeente die Ons Vader saam, en wens mekaar die vrede van Christus* toe, voordat die priester en sy assistente die brood en wyn, Christus se liggaam en bloed, uitdeel. Die kommuniegebed en seën van die gemeente deur die priester sluit die mis af.

Vir verdere lees: JH Emminghaus 1978. Eucharist, Essence, Form, Celebration. Col­lege­ville: Liturgical Press.

Sidebar