MISDAAD IN SUID-AFRIKA

MISDAAD IN SUID-AFRIKA. Die hoë vlakke van misdaad in Suid-Afrika veroorsaak nie net bewustelik nie, maar ook op ’n diepliggende, meer onbewuste vlak, heelwat spanning en angs by mense. Misdaad skep ook ’n kultuur van vrees waarin agterdog en bitterheid mense se verhoudings kenmerk, eerder as sorg en gasvryheid.

Waarom hét Suid-Afrika soveel misdaad? ’n Land soos Indië het ook baie arm mense en werkloses. Die kloof tussen ryk en arm is ook groot in lande soos Brasilië en Meksiko. Tog beleef hulle nie dieselfde vlakke van misdaad, veral geweldsmisdaad, as ons nie.

Van die belangrikste oorsake van misdaad is swak moraliteit*, veral soos dit sigbaar word in die min respek vir lewe en vir ander se besittings. Ook veroorsaak swak opvoeding en opleiding dikwels deelname aan die sg “onwettige eko­no­mie”. Kanadese en Amerikaanse navorsing toon dat bevredigende opvoeding en opleiding wel ’n remmende uitwerking op die voorkoms van misdaad het.

Nog ’n oorsaak is dat daar in baie gemeenskappe nie meer navolgenswaardige voorbeelde, standaarde en waardes* ge­stel word nie. Sommige dele van die ge­druk­te en elektroniese media vererger die situasie.

Verder dwing die huidige strafregstelsel nie genoegsame respek af nie. Daar is groot oponthoude in die hantering en afhande­ling van sake en die Suid-Afrikaanse Polisie­diens beskik klaarblyklik nie oor die nodige fondse, personeel en toerusting om misdaad doeltreffend te bekamp nie.

Klaarblyklike oorsake van misdaad is die armoede* en werkloosheid in die land. Die Suid-Afrikaanse ekonomie het in die eerste jare van die 21ste eeu begin stoom optel, en dit is uiteraard vir werkskepping noodsaaklik wat die gaping tussen ryk en arm uiteindelik kan laat krimp. Die groot wanbalans tussen ryk en arm stimuleer misdaad. Die ekonomie het egter vanweë onder meer ’n wêreldwye resessie weer van sy stoom verloor.

Nog oorsake van misdaad – by name van “witboordjiemisdaad” – is materialis­me* en hebsug wat by baie Suid-Afrikaners alte welig tier.

Die kerk* het ’n verantwoordelikheid om te help bou aan ’n gesonde gemeenskap waarin daar minder kweekplek vir maat­skaplike uitwasse soos misdaad is. Die kerk moet Christelike waardes by lidmate vestig wat na die wyer gemeenskap kan deursuur. Maar die kerk sal ook prakties moet kyk na moontlikhede om armoede te help verlig en werk te help skep – en die kerk behoort die moontlikhede te ondersoek om een van die kanale te wees waardeur ander in­stansies in hierdie verband hulle rol kan speel. Daarby het die kerk ’n uiters belangrike pastorale verantwoordelikheid teen­oor die misdadiger. (Kyk ook: Etiek, Vredes-.)

Vir verdere lees: C Burger, L Meiring, A van Niekerk en C Wepener (reds) 2005. Waar die kerk werk. Wellington: Lux Verbi.BM.

 

Sidebar