MISKOTTE, KORNELIS HEIKO

MISKOTTE, KORNELIS HEIKO (1894–1976) is in Utrecht gebore en het ook daar studeer. As student is hy sterk beïnvloed deur die gedigte van Roland Holst, die etiese teologie van JH Grunning, en later die dogmatiek* van Karl Barth*. Die invloed van die Jood*, Franz Rosenzweig, op sy denke is ook opvallend. Sy proefskrif het ge­handel oor die wese van die Joodse reli­gie (1932). Hoewel hy baie moeite gedoen het om Barth in die Nederlandse konteks te integreer en te verdedig, het hy algaande ’n kenmerkende eie styl ontwikkel. Dit is opvallend hoeveel uiteenlopende ervarings en sienings hy in sy denke en lewe kon integreer. Gedurende sy jare as gemeente­leraar het hy bekend geword vir sy publikasie van treffende preke en Bybel*studies. Dit het die naam “Miskotte-gemeente” verwerf. As professor in dogmatiek aan die Universiteit van Leiden het Miskotte be­kend geraak vir die manier waarop hy teologie* en wêreldgebeure voortdurend by mekaar betrek het. Miskotte se teologiese arbeid is gekenmerk deur ’n bepaalde literêre aanslag en sy vermoë om vooruit bepaalde antisipasies te kon maak (bv ten opsigte van die God-is-dood-teologie).

Sidebar