MISSIO DEI EN MISSIO ECCLESIAE

MISSIO DEI EN MISSIO ECCLESIAE. Dat sending* deur God self bepaal word, word jare reeds beklemtoon. Die drie-enige* God is betrokke by die sending deurdat die Vader* die Seun* na die wêreld stuur, en die Heilige Gees* die bediening van die Seun voltooi. Abraham Kuyper* het dié saak beklemtoon, maar veral Karl Hartenstein het die implikasies daarvan vol­le­dig uitgewerk. By die sendingkonferensie te Willingen* het hy die vergadering in 1952 so ver gekry om groot klem op die gedagte van die Missio Dei (“God se sen­ding”) te lê. Ná Willingen het dit algemene besit geword. Karl Barth* het ook ’n besondere bydrae gelewer deur sy beklemtoning van die Christologie*. David Bosch* toon verder aan dat sending die beweging van die drie-enige God na die wêreld toe be­hels: Uit sy Vaderlike hart stuur Hy die Seun, wat God se finale en definitiewe be­moeienis met die wêreld beteken, en deur die Heilige Gees na buite gedra word. Be­grond in die Missio Dei volg die Missio Ecclesiae (die “sending van die kerk”). Soos die Vader die Seun gestuur het, stuur die Seun ons – sy kerk – om sy getuies*, sy gevolmagtigde verteenwoordigers, op aarde te wees. Ampsdraers, sendelinge* én ge­wone gelowiges – almal wat hulleself Chris­tene noem – deel in dié verantwoordelik­heid.

Vir verdere lees: DJ Bosch 1979. Heil vir die wêreld. Pretoria: NGKB. DJ Bosch 1991. Transforming Mission: Paradigm Shifts in the Theology of Mission. New York: Orbis. C van Engen 1991. God’s Missionary People: Rethinking the Purpose of the Local Church. Grand Rapids: Baker.

Sidebar