MISTIEK

MISTIEK is afgelei van die Griekse* woord mystikós en dui op dit wat geheimsinnig, misterieus (mystéria) is. Oor die algemeen word mistiek gesien as ’n godsdienstige verskynsel waarvan die kerngedagte ’n soeke is na ’n geestelike eenheid en ’n ervaring met die Goddelike of heilige.

Gestaltes van mistiek word gevind in al die vernaamste godsdienste asook in sekere nie-godsdienstige rituele waar dit dikwels aanwesig is by ’n vereniging met die na­tuur. Meer as enige ander godsdiens word Hin­doeïsme* as byna sinoniem met mis­tiek beskou, en hulle godsdienstige praktyke is populêr selfs in die Weste. Ons vind vorms daarvan ook in Boeddhisme*, Islam* en in die Joodse* geloof.

Die Christelike beïnvloeding deur die mistiek vind plaas deur die Griekse filosoof, Plotinus, wat ’n navolger van Plato was. Die Christelike denker wat hierdie mistieke teo­lo­gie* in die eerste eeue tot ’n duidelike sisteem uitgewerk het, was vermoedelik ’n on­be­kende Siriese monnik wat gewoonlik Dionisius* die Areopagiet genoem word. Augustinus* van Hippo (354–430), wat ook sterk onder die invloed van Plotinius ge­staan het, het die tradisie van Christelike mis­tiek begin wat tot ’n groot mate sowel die Katolieke* as Protestantse* mistiek van vandag stempel.

Sidebar