MISTISISME

MISTISISME. Die proses van Christelike mistisisme is gedurende die eerste eeue van die Christendom* beheers deur die Griekse denke oor God as onverstaanbare en onbekende. Die tradisie van mistisisme wat Augustinus* van Hippo (354–430) begin het, het ’n beslissende stempel op Katolieke* en Protestantse* mistisisme deur die eeue geplaas, en “die wette” hoe jy in aanraking met God kan kom, geld vandag nog in die manier waarop Christelike mistiek bedryf word.

In die Christelike mistisisme word eerstens beklemtoon dat ons nie te maak het met ’n on­be­kende God nie. Dié mistisme handel oor die geloof* in die drie-enige* God wat sy liefde* teenoor ons geopenbaar het. Hierdie liefde is onlosmaaklik verbind met Christus* en die Hei­lige Gees* wat die mens in verhouding tot God plaas.

Tweedens speel die proses veral af in stilte en afsondering tydens meditasie* (kontemplasie). Calvyn* praat van die bepein­sing van God se gesig (2 Kor 3:7-18), waar ons uit die Woord, deur die werk van die Gees, God se onvoorwaardelike liefde teen­oor ons ervaar.

Derdens bewaar Christelike mistisisme die grense tussen God en die mens. Dit handel oor ’n proses waar liefde van twee kante kom: God neem die inisiatief en die mens ant­woord, maar God bly God en mens bly mens.

Vierdens vind daar in dié mistisisme ’n vernuwing in die mens plaas, soos 2 Kor 3:7-18 dit verduidelik. Die Gees weerspieël al hoe meer die liefde van God in ons lewe. Hierdie vernuwing betrek die totale mens na liggaam, verstand, emosie en wil.

Alhoewel Augustinus dit nie eksplisiet so gestel het nie, impliseer hy tog dat die pro­ses van mistisisme uiteindelik nie net iets privaats in isolasie is nie. Mistisisme kan die kerk* vernuwe en aktiveer, dit maak die lewe meer sinvol en het uiteindelik ’n in­vloed op die wêreld waar daar so ’n be­hoefte aan liefde is.

Sidebar