MITOLOGIE

MITOLOGIE verwys na die manier waar­op voor-moderne samelewings en beska­wings sin probeer maak het van hulle wêreld. ’n Mite is ’n verhaal met behulp waarvan mense probeer om dit wat onduidelik in hulle ervaring van die werklikheid is, duidelik(er) te maak. ’n Voorbeeld hiervan is die verhaal van Deme­ter en Persephone uit die Griekse* mitologie wat die siklus van die sei­soe­ne vir die antieke Grieke wou verklaar.

Mites het drie kenmerke. Eerstens berus die insig wat die mite bied, nie op ’n self­standige ondersoek wat aanhangers van die mite geloods het nie. Dit word eerder aanvaar dat die kennis wat mites bied, eenvoudig van die vroegste tye af aan mense geopenbaar is. Tweedens is die kennis wat deur middel van mites verwerf word, ten nouste verweef met handeling. Die kennis wat die mite bied, is nie teoretiese kennis wat aan ons insig bied in hoe verskynsels werk, bloot ter wille daarvan om te weet hoe dit werk nie. In mites ken ons die wêreld ten einde dit te kan beïnvloed. Want die mitiese mense lewe in ’n gevaarlike wêreld vol bo-menslike kragte waaraan hulle uitgelewer is, kragte wat hulle gunstig wil stem teenoor hulleself, ten einde in hierdie gevaarlike wêreld te kan oorleef. Derdens is die mite nie krities beredeneerbaar nie. Dit maak geen sin in ’n mitiese kultuur om mites aan ’n kritiese ana­lise te onderwerp, en, bv, te vra of die mite werklik “die waarheid” praat nie.

Teenoor die mitiese denke staan die mo­derne denke in terme waarvan kennis slegs betroubaar is as dit berus op ’n selfstandige ondersoek wat in beginsel deur enigiemand anders gekontroleer kan word. Mo­der­ne mense het ook ’n teoretiese inge­steld­heid in terme waarvan ons kennis op­doen vanuit ’n houding van nie-betrokke beskoulikheid. En in moderne denke is ken­nis­aansprake altyd bevraagtekenbaar en krities toetsbaar.

Vir verdere lees: CA van Peursen 1975. Cultuur in Stroomversnelling. Amsterdam: Elsevier. M Grant 1962. Myths of the Greeks and Romans. New York: New American Library.

Sidebar