MIV EN VIGS

MIV EN VIGS. Terwyl die uitwerking van vigs reeds teen die einde van die 1970’s in Afrika, Haïti en die Dominikaanse Repu­bliek waargeneem is, is dit eers in Junie 1981 in die VSA as ’n siektetoestand beskryf. Aangesien dit aanvanklik onder gays* geïdentifiseer is, het dit die naam GRID (Gay Related Immune Deficiency) gekry. Later, nadat ontdek is dat die siekte nie ’n voor­keur vir mense met ’n bepaalde seksuele oriën­tasie het nie, is dit in Afrikaans “vigs” (verworwe immuniteitsgebreksindroom) genoem – in Engels AIDS. ’n Immuniteitsgebrek kom voor wanneer die menslike immuunstelsel nie infeksies wat die liggaam bedreig, kan beveg nie. ’n Sin­droom verwys na ’n groep simptome of te­kens wat gesamentlik kenmerkend is van ’n siekte. Vigs word veroorsaak deur ’n virus wat die bloedstroom deur seks*omgang of deur middel van besmette liggaamsvloei­stowwe (bv bloedoortapping) bin­ne­dring. Dié virus is die eerste keer in 1984 deur drr Robert Gallo en Luc Montagnier ontdek en in 1986 het dit die naam MIV (menslike immuniteitsgebrekvirus) gekry. MIV is nie maklik oordraagbaar nie en hou ge­volglik nie gevaar in vir gesinslede en ander naasbestaandes met wie die MIV-po­si­tiewe persoon in aanraking kom nie. Infektering met die MI-virus beteken tans ’n lewenslange vonnis. Die geïnfekteerde ont­wikkel uiteindelik MIV-simptome en sterf aan vigsverwante siektes (soos tering en longontsteking). Bestaande medikasie het wel ’n remmende effek op die siekte. Om­dat geïnfekteerdes eers ná jare simptome kan toon, is die voorkoms van MIV en vigs meestal nie oppervlakkig sigbaar nie. Anti-retrovirale medisyne wat op die regte ma­nier toegedien word, bied al meer moontlikhede vir mense wat MIV-positief is om vir baie jare ’n normale lewe te lei.

Die vigspandemie, wat ’n wêreldwye verskynsel is, het die meeste slagoffers in Afri­ka suid van die Sahara. Suid-Afrika word as ’n hoërisikogebied beskou, onder an­dere as gevolg van die vernietiging van die gesins- en gemeenskapslewe as gevolg van die trek­ar­beidstelsel, die hoë vlak van armoede* en die lae status van vroue in die gemeenskap. ’n Donker prentjie word geskilder van die sosio-ekonomies-maatskaplike gevolge van die siekte: ’n tekort aan opgeleide werkers, geweldige druk op die land se gesondheidstelsel, ’n groot versorgingslas op gesinne en die uitsiglose situasie van vigswesies, om enkeles te noem.

Vir verdere lees: DJ Louw 1995. “Pastoral Care for the Person with Aids in an African Context” in: Praktiese Teologie in Suid-Afrika 10(1), 29-44. S Pick 2002. MIV/Vigs ons grootste uitdaging nog: Die pad vorentoe vir die kerk in Suid-Afrika. Wellington: Lux Verbi.BM.

Sidebar