MIZEKI, BERNARD

MIZEKI, BERNARD (circa 1861–1896) is in Portugees-Oos-Afrika (tans Mosambiek) gebore. Toe hy 12 jaar oud was, het hy Kaapstad toe gegaan op soek na werk. In die Kaap het hy 10 jaar as arbeider gewerk en in krotbuurtes gewoon. Hy het daar die invloed en gevolge van drankmisbruik op baie mense gesien, en ’n geheelonthouer geword. Ná die dag se werk, het hy aandklasse by die Anglikaanse* skool bygewoon. Hy het ’n Christen geword en is in 1886 ge­doop*. Uiteindelik was hy verskeie tale mag­tig, waaronder Engels, Frans, Nederlands en agt inheemse tale. Hy het ’n waardevolle bydrae tot die vertaling van kerklike materiaal in inheemse tale gelewer.

Nadat hy matriek gemaak het, het hy biskop* Knight-Bruce as leke-kategeet na Masjonaland vergesel. In 1891 het die biskop hom aan Nhowe, stat van opperhoof Mangwende, toegewys waar hy ’n sen­ding*stasie gebou het. Later het hy die sen­dingstasie met die toestemming van die opperhoof na ’n nabygeleë randjie verskuif – maar, volgens die plaaslike geestelike leiers, heeltemal te naby aan ’n laning bome, gewy aan die voorvadergeeste.

Gedurende ’n opstand in 1896 is Mizeki gewaarsku om te vlug, maar hy het geweier. Die Christene is daarvan beskuldig dat hulle die oorsaak van swak oeste was. Op 18 Junie is hy buite sy hut deur ’n spies gewond. Hy is ’n paar dae later oor­lede. Sy vrou het later vertel dat hy in sy laaste ure deur ’n visioen van die opgestane Christus* versterk is.

Vir verdere lees: F Quinn 2002. African Saints: Saints, Martyrs, and Holy People from the Continent of Africa. New York: Crossroads.

Sidebar