MOABITIES

MOABITIES verwys na ’n taal, ’n volk en ’n landstreek.

  1. ‑Moabities is die taal van die Moabiete, ’n volk verwant aan die Israeliete. Moa­bities kom sterk ooreen met Hebreeus*, soos blyk uit die Mesasteen* wat in 1868 ontdek is en waarin koning Mesa* vertel van sy stryd teen koning Agab* van Is­rael*, ongeveer 830 vC. (Kyk ook: Semitiese tale.)
  2. ‑Die Moabiete stam van Lot* by sy oudste dogter af (Gen 19:37). Hulle is dus nou verwant aan die Ammoniete*, hulle noor­delike bure, wat van Lot se jongste dogter afstam (Gen 19:38). Die Moabiete het hulle land van die Emiete afgeneem (Deut 2:10-11) en het as volk later deel van die Arabiese stamme geword. Soos die Ammoniete* is hulle verbied om in die vergadering van die Here* te kom, omdat hulle Israel laat vervloek het (Deut 23:3-6). Die Moabiete was dikwels vyande van die Israeliete, maar daar was ook ondertrouery (1 Kon 11:1; 14:21; Neh 13:23). Rut*, ’n Moabitiese vrou, vorm deel van die geslagslyn van Jesus* Chris­tus* (Rut 1:4; 4:10-22; Matt 1:5).
  3. ‑Die land Moab was geleë in die Abarim­berge, oos van die Dooie See, met spitse soos die berg Nebo* (Deut 34:1). Moab het oorvleuel met die grondgebied van die Israelitiese stam Ruben* (Jos 13:15-23) en is begrens deur die koninkryke van die Edomiete* en Ammoniete.

Belangrike plekke in Moab was Me­deba, Kirjatajim, Nebo en Atarot. Moa­bitiese afgode was Kemos* (1 Kon 11:7, 33) en Baäl-Peor (Num 25:1-3).

 

Sidebar