MODALISME

MODALISME is die siening dat die Va­der* en die Seun* en die Heilige Gees* nie drie ewige Persone in die wese van God is nie, maar wel drie opeenvolgende versky­ningsvorms van God. Teenoor die wesens­trini­teit van God word ’n openbarings-triniteit gestel. Die drie Goddelike Persone bestaan volgens dié siening nie ewig naas mekaar nie, maar is drie tydelike bestaans­wyses ná mekaar. God verskyn dus elke keer as ’t ware met ’n nuwe masker – eers as Vader, daarna as Seun, en vervolgens as Heilige Gees. Voorstanders hiervan soos Praxeas, Noëtus en Sabellius – hoofsaaklik uit die derde eeu – het ook bekend gestaan as modalistiese monargiane. Volgens Sabellius is die drie verskyningsvorms van God (die Vader as Skepper, die Seun as Verlosser en die Gees as Heiligmaker) nie verskillende Persone nie, maar drie verskillende uitdrukkings van dieselfde Persoon. Omdat dit impliseer dat die Vader ook aan die kruis gely het, word die term patri­pas­sianisme* soms ook vir dié siening gebruik. Hierdie beskouing is teen die einde van die vierde eeu uitdruklik deur die kerk verwerp soos uitgedruk in die Geloofsbelydenis van Atanasius*.

Sidebar