MODERNISME

MODERNISME dui in die algemeen op een van die groot eras in die geskiedenis, ook “moderniteit” genoem, wat strek van die tydvak ná die Middeleeue tot vóór die post­moderne* tydvak.

Spesifiek gebruik, verwys dit na ’n beweging van 1880 af tot by die Tweede Wêreldoorlog* wat veral in die litera­tuurgeskiedenis en beeldende kunste begin het. Dit dui ook ’n beweging in die Katoli­sisme* en Protestantisme* in die 19de/20ste eeu aan. Christelike modernisme probeer om die klassieke Christelike geloofsoortuigings te versoen met die moderne wetenskap en filosofie (Kyk by: Wetenskap en godsdiens/teologie). Modernistiese meto­des, soos die histories-kritiese bestudering van die Bybel*, word aanvaar en op rasiona­le vlak met geloofsinhoude versoen. Die oortuiging is dat die evangelie* aan mo­derne mense gebied kan word sonder om hulle intellek te ontken.

Sleutelbegrippe: In die modernisme speel ’n aantal sleutelbegrippe ’n groot rol:

Rasionalisme* – die oortuiging dat alles verstaan en bedink kan word. Die wese van die mens lê daarin dat die mens kan dink. Descartes* se stelling “Ek dink, daarom is ek”, word gesien as ’n slagspreuk van mo­dernisme. Feite, verstaanbaarheid en objektiwiteit is belangrik.

Boeke – ’n geskrewe kultuur wat wesenlik beïnvloed is deur die ontdekking van die boekdrukkuns en die wye beskikbaarheid van boeke.

Beheer – die oortuiging dat die natuur beheer kan word deur tegnologie. Misterie* word beheer deur groot denkskemas wat alles verklaar, en menslike gedrag deur groot sosiale instellings.

Meganisasie – masjiene is werktuie vir beheersing van die natuur en ’n metafoor* vir die mens.

Reduksionisme – groot en komplekse probleme kan verstaan word deur dit te reduseer tot kleiner dele. Die waarheid word gevind in analise en deur probleme in kleiner komponente op te breek. Die hede word verstaan deur na die verlede te kyk.

Indiwidualisme – fokus op die indiwidu. Die geluk, regte en vryheid van die indiwidu staan voorop.

Materialisme – materiële goedere en die verbruik van materiële middele staan sentraal. Mense se waarde word gemeet in terme van hulle deelname in materiële welsyn.

Kenmerke: Die tydvak word gekenmerk deur die totstandkoming van demokrasie* en die nasiestaat; die ontstaan van kapitalisme*; die groeiende rol van wetenskap en tegnologie; groei in geletterdheid onder gewone mense en die ontploffing in massa-kommunikasie. Teologies word dit gekenmerk deur die Kerkhervorming* en pogings om die misterie van godsdiens rasioneel te verklaar.

Invloedryke persone: Nikolaus Koper­ni­kus (1473–1543), Martin Luther* (1483–1546), Johannes Calvyn* (1509–1564), Galileo Galilei* (1564–1642), René Descartes* (1596– 1650), Isaac Newton* (1642–1727), Voltaire* (1694–1778), Jean Jacques Rousseau* (1712– 1778), Friedrich Schleiermacher* (1768– 1834)

Modernisme en Protestantisme: Die Pro­testantisme het saam met die modernisme ontstaan en daar is ’n hegte wisselwerking met die modernisme. Die Protestantisme sluit nou aan by die wetenskapsbeoefening van die modernisme. Dit is veral sigbaar in die klem op die geskrewe woord; die belang­rikheid van ’n rasionele, logiese verduideliking van geloofswaarhede in uitgebreide geloofsbelydenisse; die sentrale plek van pre­diking*; beginsels wat etiese* optrede lei, en die belangrikheid van orde.

Liberale Protestantisme is ’n belangrike uitdrukking hiervan. Veral onder die in­vloed van Schleiermacher en Ritschl word probeer om die impak van wetenskaplike navorsing te versoen met tradisionele Bybelse* waarhede. (Kyk ook: Postmoder­nisme.)

Vir verdere lees: MR Miller 2004. The Millennium Matrix: Reclaiming the Past, Reframing the Future of the Church. San Francisco: Jossey-Bass. B McLaren 2001. A New Kind of Christian: A Tale of Two Friends on a Spritual Journey. San Fran­cisco: Jossey-Bass.

Sidebar