MOEDER TERESA (AGNES GONXHA BOJAXHIU)

MOEDER TERESA (AGNES GONXHA BOJAXHIU) (1910–1997) is ’n Kato­lieke* non* en wenner van die Nobelprys vir Vrede. Sy is in Üsküb in Kosovo, Otto­maan­se Ryk, nou Skopje in Masedonië, gebore. Sy word reeds op 12-jarige ouderdom bewus van haar roeping. Sy sluit in 1928 as suster Teresa by ’n Ierse orde aan, die Susters van Ons Vrou van Lareto, wat sending*werk in Indië doen. In 1931 lê sy haar eed as non af, en sy gee tot 1948 onderwys in Kalkutta (nou Kolkata). Sy verkry toestemming om die klooster* te verlaat, en gaan werk in die armste agterbuurte van die stad.

In 1950 stig sy die orde bekend as die Sendelinge vir Liefdadigheid, wat die armstes en siekes versorg, eers in Kolkata, maar later oor die hele wêreld. Die orde onder­neem ook noodlenigingswerk ná rampe, en versorg vlugtelinge.

Een van haar eerste projekte is die stig­ting van die Kalighat-tuiste vir sterwendes, waar die armstes met waardigheid kan sterf. Sy stig ook die Nirmal Hriday- (Rein hart-) tuiste vir sterwendes, Shanti Nagar, ’n dorp vir melaatses, asook ’n kinderhuis.

Moeder Teresa, soos sy wêreldwyd be­kend geword het, is deur pous Johannes XXIII* met die Vredesprys vereer (1971), en is ’n ontvanger van die Nehruprys vir die bevordering van internasionale vrede en begrip (1972), die Nobelprys vir Vrede (1979) en die Amerikaanse Medal of Freedom (1985).

In 2007 het ’n boek, geredigeer deur Brian Kolodiejchuk, bestaande veral uit kor­re­spondensie tussen Teresa en haar “confessors” en “superiors”, Mother Teresa: Come be my Light, opspraak verwek.  Die briewe, wat teen haar wense behoue gebly het, onthul dat vir die laaste halfeeu van haar lewe, sy nie die teenwoordigheid van God in haar lewe beleef het nie – inteendeel, Hy het vir haar die “Afwesige” geword. Dat sy ten spyte daarvan met haar werk voortgegaan en nie die geloof prysgegee het nie, word as ’n voorbeeld gesien vir mense wat twyfel, “a natural part of everyone’s life”.

In 2003 is sy deur pous Johannes Paulus II* salig verklaar, die eerste stap om tot hei­lige in die Katolieke Kerk* verklaar te word.

 

Sidebar