MOERDIJK, GERARD LEENDERT PIE­TER

MOERDIJK, GERARD LEENDERT PIE­TER (1890–1958) se ouers was Neder­landse immigrante wat die Anglo-Boere­oorlog* deurgemaak het. Dit het bygedra tot sy pro-Afrikaner*-sentimente. Hy was van 1906 tot 1909 werksaam by die departement van openbare werke van die Zuid-Afrikaansche Republiek voordat hy in Lon­den begin het met argitektuur-studies. Deur uitgebreide Europese studiereise het hy hom veral in die klassieke argitektuur verdiep wat later sy ontwerpe sterk sou beïnvloed. Hy het ook die Kaaps-Hollandse argitektuur met ’n Carnegiebeurs bestu­deer. By sy terugkeer het hy sy eie argiteks­praktyk begin, en hy vestig in 1924 sy praktyk permanent in Pretoria. Daar was later ook takke in Bloemfontein en Johannes­burg. Moerdijk het ’n belangrike rol met sy nuwe benadering tot kerkargitektuur ge­speel. In plaas van die tradisionele neo-Go­tiese kruisvormige styl, konsentreer hy op Romaanse en Bisantynse invloede met Suid-Afrikaanse boumateriaal soos sandsteen. Romeinse boë, sirkelvormige vensters en -dakke en koepels was tiperend. Die geronde (dikwels agthoekige) grondvloer het ’n amfiteater-rangskikking met die preek­stoel as sentrale fokuspunt meegebring. Die ontwikkeling van ’n eie Afri­kaanse Prote­stantse* kerkargitektuur was vir Moerdijk ’n passie. Kerkargitektuur het vir hom so na aan die hart gelê dat hy die ontwerp van ’n verstommende 94 kerke self behartig het. Hy het die beste eksponent van neo-Bisantynse kerkargitekktuur in Suid-Afrika geword.

Moerdijk het ook die Voortrekkermonu­ment in Pretoria ontwerp wat in 1949 voltooi is – ongetwyfeld sy grootste werk. Hy het in Maart 1950 ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van Pretoria ontvang.

Vir verdere lees: I Vermeulen 1999 Man en monument: Die lewe en werk van Gerard Moerdijk. Pretoria: JL van Schaik.

 

Sidebar