MOHAMMED

MOHAMMED (570–632) is op die twaalf­de dag van die maand Rabi-ul-Awwal van die Arabiese kalender in Mekka gebore as lid van die Quraish-stam. Hy was maar ses jaar oud toe sy ma oorlede is, en het die volgende twee jaar by sy oupa gebly. Toe is sy oupa ook oorlede, waarna hy in die sorg van sy oom Abu Talib geplaas is.

Mohammed is Al-Amin genoem: “Be­trou­baar”. Mettertyd het die weduwee van ’n ryk handelaar van hom te hore gekom en hom in diens geneem om oor haar handelskaravaan na Sirië toesig te hou. Later, toe Mohammed 25 was en sy 40, het hy met die weduwee getrou.

Hy het hom dikwels aan mense onttrek en in die woestyn gaan mediteer. Dit was terwyl Mohammed in die Hira-grot op Berg Lig (Jabal-al-Noor) aan die mediteer was dat die aartsengel Gabriël* aan hom “die ewige en ongeskepte woord van Allah”, die Koran*, sou oorhandig het. Drie jaar lank het hy sy geloof geheim gehou deur dit aan slegs ’n paar vriende mee te deel. Toe het hy die boodskap van Allah ontvang om te begin preek. Mohammed het op die Safa-heuwel in die middel van Mek­ka gaan staan en Allah se boodskap ver­kondig en mense uitgenooi om by hom aan te sluit. Hy was veertig toe hy profeet ge­word het.

Moesliems behoort al die profete ewe veel te vereer, maar omdat Mohammed die profeet was wat die “finale openbaring” van Allah gebring het, kry hy spesiale behandeling. Daar word met meer as 200 titels na hom verwys, waaronder “Allah se apostel”, “Allah se lig”, “die vrede van die wêreld” en “die seël van die profete”. Hy het 23 jaar lank as profeet opgetree.

Vir verdere lees: RE Droubie 1971. Islam: The Religious Dimension. Londen: Long­man Schools Division. E Van Gerpen 1983. Notes on Islam. Phoenix: Oasis Books.

 

Sidebar