MOKONE, MANGENA MAAKE

MOKONE, MANGENA MAAKE (1851–1931) is in Sekhukuneland as lid van die Bogogastam gebore. Sy pa is gedurende die Swazi-oorlog van 1863 oorlede en Mokone het Durban toe gevlug. Daar het hy vir ene mev Steele gewerk. Sy was lid van die Meto­distekerk* en het hom aangemoedig om die aandskool by te woon waar hy leer lees en skryf het. Hy was ook by die Aliwal­straat-kapel betrokke en het ’n leke-predi­ker geword.

In 1874 is hy gedoop en het na Pieter­ma­ritzburg gegaan om die Edendale-kollege by te woon. By die Metodiste-sinode van 1880 is die vraag gestel waarom daar so min swart leraars was. Mokone is as proefstudent gekies, en is sewe jaar later georden.

Terwyl Mokone by die Kilnerton-oplei­dingsinstituut doseer het, het hy gekla oor die aparte sinodevergaderings vir swart en wit predikante. Hy het ook ander klagtes gehad oor hoe swart leraars behandel is. Aan die einde van 1892 het hy die Metodis­tekerk verlaat en die Etiopiese Kerk in Marabastad gestig. Dit was ’n swart kerk vir alle stamgroepe. Ander leraars wat hulle by hom aangesluit het, was JZ Tantsi, JG Xaba en Marcus Gabashane.

In 1896 het die leiers van die Etiopiese Kerk die Amerikaanse African Methodist Episcopal Church* (AMEC) gevra om saam met hulle te werk. Biskop Turner van die AMEC het gekom en talle leraars weer georden. Toe sommige leraars die AMEC verlaat het om hulle eie gemeentes te stig, het Mokone aan AMEC getrou gebly.

Vir verdere lees: JA Millard 1999. Mali­hanbe: Let the Word Spread. Pretoria: Unisa.

Sidebar