MÖLLER, FRANCOIS PETRUS

MÖLLER, FRANCOIS PETRUS (1922– 2001) is op Coligny gebore en het ’n groot rol in die Suid-Afrikaanse kerklike en samelewingskonteks gespeel as president vir 22 jaar (1966–1988) van die grootste pinksterkerk in Suid-Afrika, die Apostoliese Geloofsending* (AGS). Hy behaal sy eerste doktorsgraad op 23 in sielkunde aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy tweede en derde doktorsgrade was beide in teologie, onderskeidelik aan die Universiteit van Pretoria en die Rijksuniversiteit van Utrecht, Nederland. Hy was stigter en prinsipaal van die eerste korrespondensie- en later binnemuurse kollege vir teologiese opleiding binne die Apostoliese Geloof­sen­ding. Oor ’n periode van 43 jaar verskyn daar ononderbroke artikels, boeke en hand­leidings vir teologiese opleiding uit sy pen. In sy werk Church and Politics – a Pen­tecostal View of the South African Situ­a­tion, veroordeel hy apartheid* in die kerk. Dié werk het later ’n ondersteunende rol gespeel in die eenwording van die AGS. Met sy laaste werk, ’n dogmatiese studie in sewe volumes, Words of Light and Life, poog hy om ’n pinksterteologie te beskryf – en dit word as ’n baanbrekerswerk reg oor die wêreld beskou. In 1989 is hy vereer as “invloedryke teoloog, kerkleier en ekumeniese gespreksvoerder” met die Orde vir Voortreflike Diens.

Sidebar