MÖLLER, GIDEON STEPHANUS JA­CO­­BUS (TAPPIES)

MÖLLER, GIDEON STEPHANUS JA­CO­­BUS (TAPPIES) (1918–2002) het re­dak­teur van die amptelike blad van die NG Kerk*, Die Kerkbode, geword toe die ver­troue in die blad as nie-politiek van aard herstel moes word. Sy onmiddellike voorgangers, AP Treurnicht* en WJG Lübbe*, het albei die redakteurskap van Die Kerk­bode binne die bestek van drie jaar verruil om redakteurs van politiek-gekleurde koe­rante te word. ’n “Vredemaker” was by Die Kerkbode nodig, en allerweë is gemeen dat Möller die man is wat dit sou regkry. Hy is op Wolseley gebore, het twee meestersgrade op Stellenbosch behaal, ’n ruk lank in filosofie klas gegee, en was predikant* van die NG gemeentes Riviersonderend, Nama­kwaland en Stellenbosch-Noord voordat hy in 1970 aangewys is as redakteur van Die Kerkbode. Möller het besef dat hy “dubbeld versigtig moet wees wat ek in Die Kerkbode skryf, hoe ek skryf en wat ek in die blad toelaat. En dié besef het my al die jare bygebly”. Van hom is geskryf: “Sy besondere vermoë om ingewikkelde sake helder en in maklike verstaanbare taal te stel en sy gesonde insig, blyk ruimskoots uit sy ewewigtige hoofartikels.”

Möller het op die breër kerklike terrein ’n groot rol gespeel: as skriba en moderator* van die Wes-en-Suid-Kaapse sinode, en as skri­ba en assessor (ondervoorsitter) van die Algemene Sino­de. By die 1986-Algemene Sinode, toe Johan Heyns* moderator geword het, was Möller saam met hom op die tweetal.

Möller het die hoofstroom-denke in die NG Kerk van die 1970’s en 1980’s verteen­woordig. Hy het dissidente* stemme spreekkans in Die Kerkbode gegee (soos die Her­vor­mings­daggetuienis* en die Ope Brief*), maar hom in hoofartikels daarvan gedistansieer.

Vir verdere lees: GSJ Möller 1998. My sestien jare by Die Kerkbode. Kaapstad: Be­perkte oplaag uitgegee deur die Tydskrif­temaatskappy van die NG Kerk. André Oli­vier 1998. Bode op die spoor van die Woord. Kaapstad: Lux Verbi.

Sidebar