MÖLLER, MARIA (GEBORE HEY­NING) (“WEDUWEE MÖLLER”)

MÖLLER, MARIA (GEBORE HEY­NING) (“WEDUWEE MÖLLER”) (1743–1815) was die dogter van ’n amptenaar van die Vereenigd Oost-Indiesche Compagnie* (VOC) wie se vrou uit ’n adelike Hugenote*-familie gestam het. Sy tree in 1767 in die huwelik met Hendrik Pieter Möller, ’n welgestelde VOC-amptenaar, wat kort daarna oorlede is. Die jong Weduwee Möller, soos sy algemeen bekend geword het, was grootliks beïnvloed deur die piëtistiese* ds Helperus Ritzema van Lier*, en sy word ’n ywerige ondersteuner van sending*- en liefdadigheidswerk. Sy was aktief betrokke by sendingwerk onder die plaaslike slawe en die Khoekhoen/Khoi-Khoi*. Sy maak met verloop van tyd groot skenkings vir die sendingwerk van ds JJ Kircherer aan die Sakrivier (1799–1806), die oprigting van die Sendinggestig* (tans die Sendingmuseum) in Langstraat, Kaapstad (1801), ’n fonds ter ondersteuning van weduwees en bejaarde vroue, en die oprigting van die SA Weeshuis – ook in Langstraat. ’n Eiendom is vir l­g doel in 1799 deur die destydse goewerneur, Sir George Yonge, aan haar geskenk, hoewel dit aanvanklik die bedoeling was om ’n tehuis vir bejaarde dames daar op te rig. Sy is oorlede kort voordat die Weeshuis – die eerste in Suid-Afrika – in 1815 in gebruik geneem is. Dit het later die Suid-Afrikaanse Kinderhuis geword wat vandag nog bestaan.

Sidebar