MOLTMANN, JÜRGEN

MOLTMANN, JÜRGEN (1926–). Ten tye van Dietrich Bonhoeffer* se teregstelling deur die Nazi’s* in April 1945, was Molt­mann ’n oorlogsgevangene. In ’n kort outobiografie toon hy aan dat daar by hom nie ’n dramatiese bekering* was nie, maar dat die werklikheid van God te midde van die duisternis van lyding en pyn in die oorlogsjare op hom ’n blywende indruk gemaak het. In 1948 het hy sy teologiese studie by Göttingen begin. Hy het blootstelling aan die teologie van Karl Barth* gehad deur geleerdes soos Otto Weber, Hans Iwand en Ernst Wolfe. Moltmann het internasionale prominensie verwerf ná die verskyning van sy Theologie der Hoffnung (1964), in Engels vertaal as Theology of Hope: On the Ground and Implications of a Christian Eschatology. In Duitsland alleen het dié publikasie in die eerste twee jaar ses herdrukke beleef. Dit het ’n nuwe periode van ekumeniese* dialoog ingelei – in Europa, Engeland, die VSA en Japan. Dié boek het wye reaksie uitgelok: van Katolieke* en  Protestante* in Latyns-Amerika, Afrika en Asië tot Marxistiese* humaniste in Oos-Europa. Die fokuspunt van Moltmann se teologiese denke en die skakel wat hom die duidelikste verbind het tot die teologie van hoop, is die tema van die eskatologiese* betekenis van die kruis van Jesus*.

Vir verdere lees: Christopher Morse 1972. “Jürgen Moltmann” in: Martin E Martyr en Dean G Peerman (red), A Handbook of Christian Theologicans. Nashville: Abing­don Press. J Moltmann 1973. The Crucified God: The Cross of Christ as the Foundation and Criticism of Christian Theology. Londen: SCM Press. J Moltmann 1975. The Church in the Power of the Spirit: A Contribution to Messianic Ecclesiology. Londen: SCM Press.

Sidebar