MONARCHIANISME

MONARCHIANISME is ’n bepaalde vorm van dwaalleer* wat die Vroeë Kerk* gedurende die tweede en derde eeu bestry het en wat met die Konsilie van Kon­stantinopel III (681) finaal verwerp is. Dit wou die eenheid van God (mono = een; arche = oorsprong) ten alle koste handhaaf en het gevolglik Christus* óf as net ’n gewone mens afgemaak (ebionitisme of adopsianisme), óf as net bloot Goddelike skyn (doketisme*). Eersgenoemde is be­stempel as dinamistiese monarchianisme en laasgenoemde weer as modalistiese monarchianisme. Hierdie twee rigtings wou dus sowel die monoteïstiese as tran­sendente verstaan van God – onderskeidelik teenoor die Jode* en die Grieke – handhaaf. Die Christologiese* implikasie van hierdie dwaalleer is dat Christus nie volle God is nie en daarom ook ondergeskik aan die Vader* (subordinasionisme*). Volgens Teodotus het die Heilige Gees* vir Jesus* by sy doop slegs met buitengewone kragte (dunameis) toegerus. Die Trinitariese implikasie hiervan is weer dat Jesus* sonder meer Gód is en dat hierdie een God Hom­self net maar verskillend laat voorkom. So het bv Sabellius geleer dat die Tri­ni­teit drie maskers (prosopa) is wat die één God by verskillende geleenthede dra (Kyk by: Modalisme). Die formulering van God as een wese en drie persone was eventueel die koers wat die kerk aangedui het.

Vir verdere lees: JND Kelly 1980. Early Christian Doctrines. Londen: A & C Black. A van de Beek 1998. Jezus Kurios. De Chris­tologie als hart van de theologie. Kampen: Kok.

Sidebar