MONISME

MONISME is ’n omvattende filosofiese term en dui die soort sisteme aan wat die totale werklikheid in terme van een enkele beginsel of idee wil verklaar. Verskillende verteenwoordigers van verskeie vorms van monisme word gevind in uiteenlopende fi­lo­sofiese sisteme en gaan so ver terug as Thales in die vroeë Griekse filosofie. Hy was daarvan oortuig dat alles in die werklikheid ’n vorm van water is. Die spesifieke term “monisme” is oorspronklik deur C Wolff (1679–1754) gebruik gedurende die Duitse Verligting, maar word deel van die filo­sofiese woordeskat sedert die invloed van GWF Hegel* (1770–1831). Die natuurlike teen­voeter vir monisme is dualisme*. Moderne vorms van monisme soos materialisme, naturalisme en sciëntisme* probeer die dualisme tussen die fisiese en psigiese, liggaam en gees, of tussen wetenskaplike kennis en ander vorms van kennis, oorwin deur alles tot materie (materialisme*) of wetenskaplike verklaring (sciëntisme) te reduseer. Alle vorms van monisme is uiteraard in botsing met die Christelike geloof dat daar ’n kwalitatiewe verskil bestaan tussen die (geskape) werklikheid en (die ongeskape) God.

Sidebar