MOODLEY, KISTEN

MOODLEY, KISTEN (1932–2001) is ge­bore in ’n streng Hindoe*-familie en het op 24-jarige leeftyd Christus* as Verlosser ge­vind. In 1962 neem hy ’n beroep van die NG Kerk* aan om met sending*werk in die sui­delike gebied van Durban te begin. Hy word opgelei as evangelis en voltooi later ook die opleiding as leraar* aan die Uni­versiteit van Durban-Westville. Mettertyd word die gemeente* Emmanuel van die Reformed Church in Africa (RCA)* in Sydenham, Durban, gestig.

Moodley se werk is gekenmerk deur ’n sterk evangeliese inslag. Hy was daarvoor bekend dat hy geen kompromie met die evangelie* sou duld nie. Wat apartheid* in Suid-Afrika betref, was dit sy oortuiging dat die verkondiging van die evangelie nooit vir politiekery verruil mag word nie. Hy het nie gehuiwer om teen die onreg­verdigheid van dié beleid standpunt in te neem nie. Dit het egter altyd geskied in die gees van ’n Bybelse* profetiese stem en sonder om polities gemotiveerd te wees.

Gedurende die drie termyne wat hy as moderator* van die sinode* van die RCA ge­dien het, het hy sterk leiding gegee in die handhawing van die evangeliese verstaan van die Skrif* en die bediening. Dit het die RCA in sy moeilikste uur help bewaar en sou uiteindelik verwoord word in die Laudium-deklarasie* van 1990.

Sidebar