MOODY, DWIGHT LYMAN

MOODY, DWIGHT LYMAN (1837–1899) kom op 18-jarige ouderdom in Boston tot bekering*, verhuis as verkoopsman na Chicago en getuig daar ywerig van Chris­tus*. In 1858 stig hy ’n vrye Son­dagskool, en in 1860 bedank hy sy werk om hom voltyds aan jeug- en stedelike evangelisasie* te wy. Mettertyd ontwikkel die Son­dagskool in ’n gemeente*, maar weens sy gebrekkige teologiese opleiding, word Moody nie as predikant* georden nie.

Tydens ’n besoek aan Engeland in 1868 word hy diep geraak deur die prediking van CH Spurgeon* en ander evangeliese leiers. Met sy derde besoek aan die Britse Eilande in 1873, kry sy suksesvolle evangelisasieveldtogte hulle beslag toe tiendui­sende in die groot stede ’n beslissing vir Christus maak. Terug in Amerika hou hy, saam met die sanger ID Sankey, reekse dienste in al die groot sentra. Hierdie by­een­komste is gekenmerk deur deeglike voor­­bereiding, goeie samewerking tussen kerke, en tienduisende wat ’n beslissing vir Christus gemaak het. Dit word bereken dat Moody die evangelie aan meer as 100 mil­joen mense verkondig het. Sy mees geliefde teks was Johannes 3:16. Benewens enkele Christelike skole, stig hy ’n Bybel*kollege in Chicago, die later bekende Moody Bible Institute, met RA Torrey* as eerste hoof.

 

Sidebar