MOOLMAN, LAFRAS

MOOLMAN, LAFRAS (1925–2015) het op Stellenbosch studeer en was NG predikant* van Swartland, Vishoek, Goudini en Welgemoed voordat hy in 1974 buitelandse sendingsekretaris van die Kaapse Kerk geword het, en in 1980 direkteur van inlig­ting en aktuele sake asook argivaris van die Wes-, Oos- en Noord-Kaapse sinodes. Mool­man het vir ds WA Landman*, wat sy me­de­leraar en mentor in Swartland (Malmes­bury) was, as direkteur van inligting opge­volg, en het in die moeilike en spannings­volle 1980’s die taak gehad om die “apart­heids­kerk”, die NG Kerk* (Kaapland), binnelands sowel as buitelands te verteen­woordig. Die drumpel van sy kantoor in Kaap­stad is platgetrap deur buitelandse kerklike en regeringsverteenwoordigers wat na antwoorde op hulle skerp vrae gesoek het. Moolman het met die hoflikheid van ’n gentleman moeite gedoen om alle vrae en bedenkinge volledig te beantwoord. Hoe­wel hy nie almal kon oortuig dat die NG Kerk reg opgetree het nie, het hy hulle wel iets van die komplekse Suid-Afrikaanse situasie laat verstaan. Hy is een van die min predikante wat die Orde vir Voortreflike Diens (Silwer) ontvang het.

Sidebar