MOORD

MOORD. Drie maniere waarop ’n lewe geneem kan word, kan uitgewys word. Eerstens kan dit gebeur sonder enige sodanige bedoeling, soos wanneer ’n berg­klimmer gly en ’n medeklimmer oor ’n afgrond stamp en hy/sy op hierdie manier sterf. Almal was fiks en voorbereid en daar was geen nalatigheid nie. Niemand kan moreel geblameer word nie.

Tweedens is daar sprake van “geregver­dig­de moord” soos wanneer ’n persoon hom-/haarself teen ’n aanvaller beskerm en dié dan sou doodmaak. Soms word daar gesê dat selfs só ’n situasie nie die doodmaak van iemand anders regverdig nie, maar tradisioneel impliseer die reg op lewe binne die Christelike etiek* dat ’n mens jou eie lewe en ook dié van ander mag be­skerm en verdedig teen ’n onregverdige aanval – selfs al beteken dit die dood van die aanvaller. Natuurlik moet die aard en geweld van die aanval die neem van só iemand se lewe regverdig.

Derdens is daar die pleeg van moord – “die opsetlike doodmaak van ’n mens” (HAT, 2005) – wat strafbaar is. Alhoewel die mens sy/haar eie lewe bestuur, bly God die gewer en eienaar daarvan en bly ons aan Hom daarvoor verantwoordelik. Daarom mag niemand die lewe van ’n ander met opset neem nie (Eks 20:13).’n Haglike situasie ontstaan wanneer, soos in Suid-Afrika, moord amper iets normaals geword het – in Ina Rousseau* se woorde: “Ons wis nie … / dat moord/ so doodgewoon sou word soos brood”. (Kyk ook: Aborsie en: Genadedood.)

Vir verdere lees: J Macquarrie en J Childress 1990. A New Dictionary of Christian Ethics. Londen: SCM.

Sidebar