MOORREES, ADRIAAN

MOORREES, ADRIAAN (1855–1938) is as predikantseun in Malmesbury gebore. Hy gaan skool by die Zuid-Afrikaansche Kollege in Kaapstad, studeer vanaf 1874 aan die Teologiese Seminarie* te Stel­len­bosch, en rond sy teologiese studie in Utrecht, Nederland, af.

Hy bedien Richmond en daarna die Groote Kerk, Kaapstad, waar hy in 1892 deur ds AI Steytler bevestig is met as teksvers Rom 1:16. Daarna bedien hy die Paarl (1895–1907). Hy word by die sinodes* van 1897 en 1903 verkies tot assessor (ondervoorsitter), en by dié van 1906 tot moderator* waar hy die sentiment van die Afrikaanse kerke teenoor verteenwoordigers van die Engelse kerke verwoord het.

Moorrees volg prof NJ Hofmeyr* in 1908 aan die Kweekskool op, waar hy tot 1930 arbei. Hy het kerkgeskiedenis* “en aanverwante vakke” aangebied. Hy was onder andere die skrywer van die onderskatte Die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1652–1873.

Afgesien daarvan dat Moorrees ’n groot onderwysman was, was het hy ook tydens die Anglo-Boereoorlog* betrokke by vredesonderhandelings en was in dié verband lid van ’n af­vaar­di­ging na Enge­land.

Moorrees was ook digter en het ’n digbundel gepubliseer, Zeven­jaar­tjes. Hy het in 1919 ’n eredoktorsgraad van Uni­sa ontvang.

Sidebar