MORAAL, NUWE

MORAAL, NUWE. Die Nuwe Moraal het in die 1960’s ontstaan met die verskyning van (veral) Joseph Fletcher se Situation Ethics (1966) en John AT Robinson* se Honest to God (1963). Hierdie sytak (“nuwe seksuele moraal”) vorm ’n onderdeel van ’n veel omvattender rewolusionêre etiek.

Hierdie moraal is as “nuut” bestempel omdat dit: 1. ’n skerp teenstelling gevorm het met die “ou” tradisionele moraal met sy onderwaardering van seksualiteit* en erotiek as ’n gawe van God; 2. skerp gekontrasteer het met die burgerlike moraal van ongelykheid tussen man en vrou (daar is doelbewus vír die emansipasie* van die vrou gekies); 3. nie uitgegaan het van (wettiese) reëls* nie, maar van beginsels* waarvan liefde* die belangrikste is (dit was voor alles ’n liefdesetiek*); 4. voorkeur verleen het aan die situasie bo die wet (dit wou geen koue pligs- of wettiese etiek wees nie); 5. ’n bui­ten­gewone swaar aksent gelê het op persoonlike vryheid en keuse (bv ten op­sigte van seks voor die huwelik*, homo­seksualiteit*, kontrasepsie, masturbasie*, aborsie*, ens).

Om Fletcher aan te haal: “Situation ethics … calls upon us to keep law in a subservient place, so that only love and reason really count when the chips are down!” Of Robinson: Niks is op sigself verkeerd nie; die enigste wat op sigself kwaad is, is gebrek aan liefde; liefde is die enigste reël.

Dit is duidelik dat die “nuwe moraal” uiters belangrike vrae aan die orde gestel het. Andersyds is daar weer kritiese vrae aan die Nuwe Moraal gestel: Word daar nie sóveel gewig aan situasie-etiek* toegeken dat die wet (reëls) geen betekenis meer het nie? Is die “wet” hoegenaamd nog nodig? Verval die Christelike etiek nie hier in volslae subjektivisme* nie?

Vir verdere lees: JC Bennet et al 1967. Storm over Ethics. Philadelphia: United Church Press. J Fletcher 1966. Situation Ethics. Londen: SCM. JAT Robinson 1963. Honest to God. Londen: SCM. J Rinzema 1972. De sexuele revolutie: Uitdaging en antwoord. Kampen: Kok.

Sidebar