MORAAL

MORAAL. Die Griekse* woord vir moraal is etos. Dit verwys oorspronklik na die habitat van diere. Goeie moraal beteken vir ’n samelewing wat ’n habitat vir diere beteken. Dit bied ’n ruimte van veiligheid en geborgenheid, ’n ruimte waarbinne ’n mens as méns kan gedy. Sommige verwys ook na die Latynse woord habitus om moraal te beskryf. Dié woord dui op die gewoontes en deugde waarmee mense leef. Die eintlike Latynse woord vir moraal is mos. Dit verwys na die bepaling van goed en kwaad, reg en verkeerd, wys en onwys, gehoorsaamheid en ongehoorsaamheid aan God, heiligheid en onheiligheid, en na dit wat die welsyn en geluk van mens en skepping* bevorder en strem. Toegespits ge­formuleer, verwys moraal na die visie wat ons het vir die samelewing, die soort mense wat ons behoort te wees, en die soort ge­drag wat ons behoort te beoefen.

Moraal wat op die vraag na goeie same­le­wings fokus, konsentreer op temas soos die waardes* van die samelewing. Die on­der­liggende beginsels van handveste van menseregte* is voorbeelde van sulke breë samelewingswaardes. Hieronder ressorteer sake soos menswaardigheid, geregtigheid*, regstelling, gelykheid en vryheid*. Die ge­sprek oor die verantwoordelikheid teenoor God vir medemens en skepping, ressorteer binne die raamwerk van hierdie sosiale of publieke moraal. Die gesprek oor die soort mense wat ons behoort te wees en die integriteit waarmee ons leef, konsentreer op die deugde of karakter wat die mens behoort te beliggaam. En die gesprek oor die onderskeid tussen regte en verkeerde gedrag, konsentreer op die norme* aan die hand waarvan die morele mens besluite oor die regte optrede kan neem.

 

Sidebar