MORAALTEOLOGIE

MORAALTEOLOGIE. Die woorde “mo­raal”* en “moraliteit”* is afgelei van die Latynse woorde mos (gewoonte, sede, gedrag) en moralis (sedekundig). Terwyl in die Protestantse* teologie* ruim gebruik gemaak word van die begrip “teologiese etiek”, word in die Katolieke* tradisie van “moraalteologie” gepraat. In lg tradisie verwys die begrip “etiek” na “filoso­fiese etiek” in onderskeiding van “moraalteo­logie”. Die Katolieke moraalteologie gaan uit van die openbaring*, terwyl die filoso­fiese etiek steun op die natuurwet en na­tuur­like kennis.

Die dualisme tussen natuur en genade* speel ’n bepalende rol in die Katolieke moraalteologie. Die genade korrigeer, komplementeer en “vervolmaak” die natuur. Natuurlike deugde (soos matigheid, standvastigheid, regverdigheid en oordeelkun­digheid) en intellektuele deugde (soos wys­heid, verstand en intuïsie) is nog nie voldoende nie, maar moet vervolmaak word deur (bonatuurlike) teologiese deugde soos geloof, hoop en liefde – aldus Tomas van Aquino*. Tomas het ’n deur­slag­gewende invloed op die Katolieke moraalteologie uitgeoefen, hoewel die Tweede Vatikaanse Konsilie* nuwe besinning in die 20ste eeu opgeroep het.

Uiteraard is daar bepaalde ooreenkoms­te tussen die Katolieke moraalteologie en die Protestantse etiek (bv die trinitariese benadering en ook bepaalde etiese kwessies), maar andersyds is daar ook belangrike verskille, wat saamhang met die totale teologiese kritiek wat die Kerkhervorming* op die Katolieke teologie uitgeoefen het (onder andere ten opsigte van sonde en genade, geloof en werke, Skrifgesag en kerkgesag).

Vir verdere lees: JP Wogaman 1994. Christian Ethics: A Historical Introduction. Londen: SPCK.

Sidebar