MORELE DILEMMA

MORELE DILEMMA dui op die situasie waarin ’n mens beland wanneer ’n keuse tussen twee of meer moontlike optredes gemaak moet word, en daar nie een moontlike optrede is wat duidelik beter is as die ander nie. Al die moontlike opsies waarvoor ’n persoon of ’n groep te staan kom, bevat elemente van reg en verkeerd, van goed en sleg.

Byvoorbeeld: Die groot aantal egskei­dings* is ’n algemene morele probleem wat uit Christelike oogpunt duidelik afgewys word. ’n Morele dilemma ontstaan in die huwelik* van ’n spesifieke vrou wie se man haar aanrand, maar verder sy gesin goed versorg. Besluit sy om te skei, gaan dit teen haar beginsels in en sal die gesin in baie opsigte swaarkry . Besluit sy om getroud te bly, word haar selfbeeld daagliks verder vernietig.

Morele besluitnemingsmodelle is nodig om mense in sulke morele verknorsings te begelei. Sulke modelle help om die situasie te analiseer, alle opsies raak te sien, die voor- en nadele van elke opsie te weeg, tus­sen verskillende norme te onderskei, kompromieë te oorweeg en met moed ’n besluit te neem. In Fil 1:9-10 is ’n aangrypende ge­bed vir die gawe van onderskeiding en fyn aanvoeling.

Sidebar